Soek

Tuisskool in Afrikaans

My kinders was nooit op skool nie

Een van die groot vreugdes in die lewe is om na jou volwasse kinders te kyk en te dink: hulle is goed grootgemaak. Ek dink mens kan dit van my twee sê. Nie aldag nie. Maar darem meestal. Wat ’n wonderwerk is, aangesien hulle nie ’n enkele dag op ’n skoolbank deurgebring het nie.

Dit vra durf om teen die grein van jou kultuur in jou kinders nie skool toe te stuur nie. Dit eis moed en geloof om te bly tuisskool as twyfelsaaiers en asemintrekkers op jou afstorm. Het jy self al ’n entjie op die tuisskoolpad geloop, het jy beslis al dié opmerkings teëgekom:

“Maar wat van hulle sosialisering?”

“Hoe weet jy jou standaard is hoog genoeg?”

“Wat bedoel jy hulle skryf nie eksamens nie?”

Al het ek dit nooit neergeskryf het, het ek altyd geweet wat ek met my kinders se tuisonderrig wou bereik. Dit was tegelyk heel haalbaar en onmoontlik idealisties. Ek wou hê hulle moes kon lees, skryf en reken. Hulle moes leer om krities te dink om inligting se waarde en betroubaarheid te beoordeel. Bowenal moes hulle as gelowiges ’n roepingbewustheid ontwikkel en tyd vat om hulle unieke talente en aanlegte te ontwikkel.

Speel-in-die-waterNou, na amper twintig jaar van tuisskool ma-wees, sien ek die genade daarvan dat ’n kind sonder selfbewustheid foute kan maak en weer probeer sonder ’n toekykende portuurgroep. Leer is nes die lewe ’n morsige spulletjie. Met ’n bietjie hier en ’n knippie daar bou elke mens geleidelik ’n kennissisteem op. Dis net met sukkel en val en opstaan en weer probeer dat jy vaardigheid verwerf.

Wat sosiale kontak betref, was ons gesin van mening dat minder, maar dieper vriendskappe beter is. Ek was gelukkig om in ’n gebied te bly waar ander tuisskoolma’s baie sosiale geleenthede gereël het en ek het entoesiasties ingeskakel en help organiseer aan uitstappies en kuiers. Buitemuurse aktiwiteite soos sportklubs, perdry, kunsklasse en natuurlik die kerk het ook gesorg vir vriendskappe. Ek raai alle nuwe tuisskoolma’s aan om dadelik ’n ondersteuningsnetwerk met ander tuisskolers te begin vorm.

My twee kinders verskil baie van mekaar en hulle is toegelaat om in verskillende rigtings te ontwikkel. Johannes is vreeslik georganiseerd en vandat hy klein is, werk hy al op ’n rooster. Hy hou van filosofie, geskiedenis, ekonomie en idees. Hy noem homself ’n groot-prentjie-mens wat graag na patrone kyk en verbande tussen dinge raaksien. Hy het eers op veertien leer lees, maar hy het onlangs hier in Amerika in Engels op sy eie vir ’n universiteitseksamen voorberei en goed deurgekom. Sy SAT punt in Critical Reading was goed genoeg dat hy ’n top Amerikaanse universiteit sou kon inskryf. (Ons is nog nie seker of die kool die sous werd is nie, universiteite in Amerika is verskriklik duur. ’n Volgende keer meer oor ons kollegepad hier in die vreemde.)

Annamaria is die kunstige een, wat daarvan droom om eendag animasieflieks te maak. Sy neem aanlynkursusse in animasietegniek, het vroeër vanjaar voor meer as 300 mense aan ’n musiekkonsert deelgeneem en bestuur noukeurig haar kunsprofiel op internet waar sy van haar werke publiseer. Sy leer haarself gereeld nuwe sagteware, wat sy nodig kry vir haar animasiewerk. Dis haar boompie en gieter wat ek vir bo-aan hierdie blogplasing gebruik.

Sal ek weer tuisonderwys kies? ‘n Duisend keer JA!

Featured post

Jy kom net nie op die fiets nie

ʼn Besonder snaakse video’tjie duik soms op my sosiale media op. ʼn Dief probeer ʼn fiets steel, maar die oomblik wat hy die fiets gryp, verskyn ʼn polisieman. As hy die polisieman gewaar, laat spaander die dief, maar die dienaar van die gereg sit hom dadelik agterna. So naby is die polisieman die dief het net-net nie tyd om op die fiets te spring nie. As hy net kon opkom, sou hy lag-lag vir die polisieman kon wegry, maar nou stoot en sukkel die dief voort. Hy is vinnig genoeg dat die polisieman hom nie kan vang nie, maar nooit vinnig genoeg om behoorlik weg te kom nie.

As tuisskoolma voel ek baie maal soos daardie dief. Die prys waarmee ek probeer wegkom, is suksesvolle en vreugdevolle tuisonderwys. Maar daar is altyd  ʼn polisieman op my hakke wat keer dat ek op die fiets kan spring en begin trap vir ʼn vale. Hiermee wil ek nou nie te kenne gee dis reg om fietse te steel nie. Dis net dat die prentjie van die dief wat die fiets al stotende probeer steel in plaas daarvan om op te spring en te begin trap, soms so bekend voel.

So baie polisiemanne op ons spoor

Het jy ook al so gevoel? Jy weet jy kán jou kinders goed tuisskool, jy weet tuisonderwys is die beste,  jy weet jou kinders kan dit doen, maar daar is altyd ʼn polisieman op jou spoor wat jou in die wiele ry. Kritiese mense wat reken tuisskolers maak van hulle kinders randeiers in die samelewing. Welmenende vriende wat prontuit sê jy oorbeskerm jou kinders. En jou skoonfamilie – ja, hulle met die slim kinders in die skool en opgetrekte wenkbroue, wat niks sê nie, maar jy weet hulle wonder oor jou bloedjies se SOSIALISERING.

Dan is daar die lewe self. Jonger boeties en sussies, die baba wat op pad is, siekte, bestuurslisensies wat hernu moet word, wasgoed, rekeninge, kos, ʼn huis wat netjies gehou moet word. Jy kom net nie op die fiets om weg te kom van die agtervolgende polisieman nie.

Ek hoop 15-Minuut-Afrikaans gaan jou die jaar help op die tuisskoolfiets te kom. Bring elke dag net ʼn kwartiertjie saam met jou kinders en die kursus deur en oor die jaar sal hulle ʼn goeie onderbou in Afrikaans kry. Voeg baie lees by en jy kan gerus wees dat jou kinders hulle moedertaal goed gaan leer verstaan en beter sal kan gebruik.

ʼn Sistematiese, maar ook  ʼn kronkelpad

Met 15-Minuut-Afrikaans is die werk vir jou gedoen. Die kursus loop ʼn sistematiese pad deur die taal, maar hy loop doelbewus ook  ʼn organiese kronkelpad, wat verseker jou die kind bou stadigaan werklike insig op in die struktuur van sy of haar moedertaal.

Ongelukkig het ek nie kwartierlange oplossings  om met al die ander polisiemanne op jou spoor klaar te speel nie, maar ek kan minstens die Afrikaanse taalleer vir jou uit die pad kry.

As jy my nou sal verskoon, ek moet self verder hol met die fiets nog langs my. Ek stoom voort om so gou as moontlik al dertig lesse oor die klein kleremakertjie vir jou reg te hê. Vir meer inligting oor 15-Minuut-Afrikaans stuur asseblief vir my ‘n e-pos na:

tuisskoolmarisa@gmail.com

Of klik op die skakel hieronder as jy by 15-Minuut-Afrikaans wil gaan inloer:

klik-op-kursus

As lesvoorbereiding al jou tyd opvreet

As ek 15-Minuut-Afrikaans se lesse opstel, steun ek swaar op woordeboeke. Dalk dink jy nou: as ek net woordeboeke hoef na te slaan, hoekom 15-Minuut-Afrikaans koop. Natúúrlik kan jy eie lesse opstel. Ek weet van ma’s wat 15-Minuut-Afrikaans aangekoop het wat waarskynlik beter taalkenners as ek is. Van hulle het  ʼn agtergrond in Latyn, Duits en Frans of is getroud met predikante wat Grieks en Hebreeus ken.

klik-op-kursus

Wat ek doen, is om vir jou tyd te spaar deur die Afrikaanse taalwerk namens jou in happiegrootte lesse te verpak. Ek raai jou egter steeds aan om minstens een woordeboek byderhand te hê.  

Die woordeboeke wat ek gebruik

Toe ek 15-Minuut-Afrikaans begin saamstel, het ek ʼn bietjie van ʼn krisis beleef. My formele kennis van Afrikaanse taalleer was woes verroes en ek het goeie handboeke nodig gehad. Die moeilikheid is dat ek 15 000 kilometer ver van Afrikaanse hulpbronne sit. Hoe nou gemaak?

Ek en tweedehandse boeke is ou vrinne

Ek het Amazon geraadpleeg om te sien of ek Afrikaanse taalleerhandboeke oor die pos kan bestel. Groot was my verbasing tot ek ʼn tweedehandse boek met die naam Skryf Afrikaans Reg opspoor. As ʼn tuisskoolouer is ek en tweedehandse boeke ou vrinne. Binne ʼn week is die boek by my huis in Amerika afgelewer. Hy was feitlik nuut. Wat was die boek se storie, het ek gewonder. Wie het hom al die pad van Suid-Afrika af saamgekarring net om hom weer verkoop?

Skryf Afrikaans Reg is ʼn wonderlike boek, maar hy was nie wat ek tóé nodig gehad het nie. Die boek is op joernaliste gemik en is vol reëls waar om hoofletters te gebruik en waar om dinge in skuinsdruk te skryf. Daar is ook afdelings in oor kommas en afkortings. Alles dinge wat ek hoop in opvolgkursusse van 15-Minuut-Afrikaans aandag sal kry. Maar vir die eerste kursus wou ek eenvoudige dinge weet, soos hoe spoor mens ʼn naamwoord op en wat is nou weer al die voornaamwoorde wat Afrikaans gebruik.

Lank lewe VivA!

En toe ontdek ek VivA. VivA is die Virtuele Instituut vir Afrikaans en word onder meer deur Noordwes Universiteit, die Solidariteit Beweging en die Atterbury Trust geborg. Vir my, wat myle en myle ver sit, het VivA gevoel asof ek onverwags melktert en koeksisters te ete gekry het.  

As jy beter wil spel

Die eerste VivA produk wat ek aangekoop het, is die elektroniese Afrikaanse speltoetser. Vir R299 kry mens ʼn oulike speltoetser, wat boosrooi uitslaan as jy ʼn woord verkeerd spel. Die speltoetster sit ook sulke blou treinspoor-strepies aan om jou te waarsku jy het nou ʼn woord beet waarmee mense dikwels ʼn fout maak. Soos  hys en huis. Te oulik. Die speltoetser maak ook jou ʼn se strepie vanself reg om en gee vir jou sinonieme.

Maar die speltoetser was nog steeds nie genoeg nie. Ek moes hier van ver weer diep in Afrikaans kon induik en haar siel van nuuts af ontdek. Toe koop ek vir R400 vir my ʼn jaar se toegang tot die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT).  

Die HAT is ʼn goudmyntjie, hoor!

Ek boer deesdae in die aanlyn HAT. Enige woord wat ek opsoek, gee vir my soveel meer inligting as wat ek ooit kon hoop om te kry. ʼn Definisie van die woord, voorbeeldsinne, raad om Anglisismes te vermy. Die HAT is die ideale bron vir iemand soos ek, wat op ʼn agterstevoorom manier taalkunde wil leer deur die lewende taal te vat en van daar haar dele en struktuur uit te maak.  

Twee koppe én twee woordeboeke is beter as een

Saam met my HAT intekening het ek van VivA af ook eenhonderd gratis elektroniese soektogte in die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) gekry. Ek het net so lustig in die WAT rondgesnuffel as in die HAT. Toe ek my komplimentêre WAT intekening uitgeput het, het ek sonder om te huiwer ook op die WAT (R200 per jaar) ingeteken.  

Waar kom daardie woord vandaan?

Omdat ek daarin belangstel, het ek ook ʼn intekening in die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (R150 per jaar) gekoop. Dié woordeboek sê waar woorde vandaan kom. Ek hoop jy geniet die geskiedenis van interessante Afrikaanse woorde soos tamaai en poegaai net so baie soos ek.  

vivaWatter VivA woordeboeke moet jy kry?

  1. Die elektroniese speltoetser is wonderlik en dié beveel ek beslis aan.
  2. Ek sou sê kry óf die aanlyn HAT óf die WAT.
  3. VivA het ook  ʼn gratis toeps met ʼn Afrikaanse woordelys, wat op selfone, rekenaars en tablette werk. Soek net na VivA app in jou toepswinkel.

VivA het ʼn elektroniese skoolwoordeboek, maar ek sien dis ʼn massa-intekening vir skole. So raai wat? Ons tuisskolers suip alweer aan die agterspeen. Dalk kan ons deur die Tuisskoolvereniging of die Pestalozzi Trust ʼn afslag vir tuisskolers beding.  

Wen woordeboeke

Om nóg meer belangstelling in 15-Minuut-Afrikaans as die wonderlike reaksie wat ek reeds gehad het, te kry, wil ek graag ʼn wedstryd uitskryf vir al my intekenare en studente. Ek oorweeg komplimentêre intekening tot die HAT, die WAT en die Afrikaanse speltoetser as pryse. Ek wil nie ʼn kompetisie hê wat bloot op geluk geskoei is nie. Sal jy belangstel in so ʼn prys as ek dit gee vir die persone wat vir my onderskeidelik die meeste mense vir die kursus en vir my poslys werf? Laat weet my asseblief. Ook as jy ander voorstelle het van wat ek as meriete kan gebruik om die pryse uit te deel.

As dit voel of jou kinders niks leer nie …

Party mense is groter as die lewe self. Leendert van Oostrum was een van hulle. In sy wonderlike stem, soos ʼn Shakespeare akteur sʼn, kan ek hom nou nog pedagogiese ruimte hoor sê. Dié ruimte is ʼn uitdinksel van opfoeterkundiges wat wil hê ʼn mens moet kinders se leerplek stroop van die alledaagse lewe. Kinders leer kwansuis die beste in so ʼn steriele omgewing. Leendert het gedink dis twak. En hy het hard en duidelik gesê dis sommer twak.

As iemand wat al amper twintig jaar tuisskool, het ek Leendert deur die jare baie vrae gevra. Meestal het hy my nie direk geantwoord nie, maar my self na antwoorde laat soek. My laaste vraag aan hom was vroeër die jaar op die tuisonderwysposlys: wat op aarde is konstruktivisme? Hy het my nooit geantwoord nie. Miskien omdat hy siek geword het, maar waarskynliker omdat hy, soos gewoonlik, wou hê ek moes self die antwoord kry.

Ek het toe bietjie gaan googleloer wat konstruktivisme is. Konstruktivisme is ʼn groot woord, maar as ʼn mens mooi na die woord kyk, sien jy konstruksie kruip daar iewers weg. As jy eers die konstruksie deel van die woord kan uitmaak, raak dit makliker.

Konstruktivisme is ʼn skool in die Opvoedkunde wat nie glo ʼn kind is ʼn leë houer wat die onderwyser in die pedagogiese ruimte vol kennis prop nie. Konstruktivisme sê die leerder maak sy eie betekenis van die leerstof, vorm sy eie insig en bou sy eie kennissisteem uit.

Eers toe ek 15-Minuut-Afrikaans aanmekaar begin sit, het ek besef die program volg ʼn konstruktivistiese benadering. Neem die werk van Week 1 byvoorbeeld. Vooraf kry die leerders ʼn bietjie leerinhoud, wat verduidelik dat ʼn naamwoord naam gee aan mense, dinge, diere, plekke en idees. Vir die res van die week word hulle gekonfronteer met Afrikaanse sinne waarin hulle die naamwoorde moet opspoor. Omdat hulle self met die sinnetjies stoei, kom die begrip.

Naamwoorde is net die begin. Week vir week werk ons deur al Afrikaans se woordsoorte, maar ook deur sinskonstruksie en hoe om jou skryfwerk laat sing deur byvoorbeeld die openinge van jou sinne af te wissel en beeldspraak te gebruik. Ons leer woordstamme eien en praat oor woorde wat maklik verwar word.

As die insig eers gekom het, hoop ek dit sal vir die leerders wees asof hulle ʼn X-straalfoto van die sinne sien en die onderliggende geraamte van hulle taal kan begin uitmaak. Intuïtief, maar miskien omdat ek deur die jare agtergekom het ʼn konstruktivistiese benadering wérk, het ek 15-Minuut-Afrikaans op dié model geskoei.

In my laaste e-pos van 2016 is dit dus gepas om ʼn saluut te gee aan ʼn groot gees in ons geledere wat heengegaan het. Dankie vir jou talle nie-antwoorde, Leendert. Dankie dat jy my oor die jare as tuisskoolma geleer het om my eie antwoorde te soek en om my eie betekenisse te vind. En dankie dat jy my gewys het hoe ek deur dié werkswyse my kinders kon leer om dieselfde te doen.

Openingsaanbod verval oor ‘n paar dae

15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod verval om middernag op 31 Desember. Jy gaan darem sewe uur grasie hê as jy te lekker Oujaar gehou het, want die tyd geld vir Amerikaanse Ooskustyd, wat sewe uur later as Suid-Afrika is. Klik op die prentjie hieronder as jy sommer nóú wil gaan inteken. En onthou om jou vriende betyds te laat weet van die program.

50-afslag-met-vervaldatum

Hoekom ons skryf soos ons praat

Ons skryf soos ons praat. Vandat mense Afrikaans begin neerskryf het, gebruik hulle dié slagspreuk. In dié opsig is Afrikaans soos Spaans, en glad nie soos Frans nie. In Spaans, ʼn fonetiese taal net soos Afrikaans, word elke letter uitgespreek.

In Frans is daar hope letters wat geskryf word, maar nie gesê word nie. Byvoorbeeld dié tongknoper grenouille, wat padda beteken, en wat green-u-eey uitgespreek word.

Hoekom het Frans daardie onuitgespreekte klanke in haar skryftaal behou? Die Franse Taal-Akademie se amptelike antwoord? Hulle wil hê Frans-praters moet kan sien waar hulle woorde vandaan kom. In sy spelling word elke woord se geskiedenis vasgevang.

ʼn Mier, wat vir altyd in ʼn stuk amber vasgevang is, is die prentjie wat by my opgekom het toe ek hiervan lees. Ek veronderstel die Académie française se redes sluit so bietjie aan by my idee dat ons stamwoorde in 15-Minuut-Afrikaans leer raaksien.

So van Afrikaans gepraat. Boeta, neem ons die reël dat ons skryf soos ons praat ernstig op. Ons skryf letterlik presies nes ons praat. Moeilikheid is, ons praat verkeerd. En die uwe is hierby ingesluit.

Ek was geskok, geskok, seg ek jou, om te hoor hoe ek my klanke ontrond toe ek die promosievideo vir 15-Minuut-Afrikaans moes maak. Met die redigeer van die video moes ek deur die pynlike proses gaan om oor en oor na my daardie ontronding te luister.

Nou weet ek hoekom ek in my lewe nooit ʼn strandhuis sal besit nie. Dis omdat ek nie strôndhuis met die nodige deftigheid uitspreek nie. Dis een van my nuwejaarsvoornemens om netjieser Afrikaans te praat. Ek wil nie meer hys sê nie, maar h-ui-s. Nou nie so óór rond soos strôndhuis nie, net met ʼn mooi ronde klanke in die middel van woord.

In 15-Minuut-Afrikaans gaan jy weer en weer woorde teëkom, wat ons verkeerd spel omdat ons hulle verkeerd uitspreek. Daarom gaan ons oefen om hulle reg te sê.

Beter uitspraak is my derde wenk om beter te spel. Ek het jou mos al vertel dat as jy stamwoorde kan raaksien en bietjie met ʼn woord rondspeel, jy baie keer kan agterkom hoe om hom reg te spel.

Die een ding wat ek nie wil hê nie is dat ons kinders lyste en lyste spelwoorde uit hulle koppe leer. Ons wil liewer vir hulle gereedskapstukke gee waarmee hulle kan uitredeneer wat die regte spelling is.

As jy nog sulke nuttige gereedskappies het om Afrikaanse spelling makliker te maak, laat hoor gerus van jou.

Wil jy gaan inloer en sien waaroor 15-Minuut-Afrikaans alles gaan? Klik dan hier:

15-Minuut-Afrikaans: 50% af, maar net tot 31 Desember 2016

 

 

 

 

Afrikaans is ‘n Lego-blokkie-taal

Die uwe spelle nie te sleg nie. Daar is egter ʼn paar spelwoorde in Afrikaans wat my pootjie en wat ek maar keer op keer moet naslaan.

Meestal wanneer om twee woorde los en wanneer om hulle vas te skryf.

Dood maklik. Een of twee woorde? En ook al? Wat van weer eens?

Enige woord wat “terug” in het, laat my ook kopkrap. Is dit terug vertel of terugvertel?

Terugkeer of terug keer? Teruggaan of terug gaan?

Dan twyfel ek ook baie keer wanneer om d en wanneer om t te gebruik. Sê mens ingelegte vrugte of praat jy van ingelegde vrugte?

Sal dit nie lekker wees nie as ons in 15-Minuut-Afrikaans vorendag kan kom met maklike maniere om dié twee spelling-kopsere op te los nie? Iets vmaklik soos daardie rympie wat ons vir ons kinders leer om hulle te help om “school” te spel: Slangetjie, hoepeltjie, hê, wieletjie, wieletjie, lê.

Dit sal kom, dit sal kom. Intussen deel ek solank twee ander gereedskapstukke om beter te spel uit.

1. Kyk na die stamwoorde

Afrikaans is ʼn Lego-blokkie-taal wat met ʼn woord hier en ʼn brokstuk van ʼn ander woord daar nuwe woorde opmaak. Nes sy Germaanse sussietale. Daarom kan Afrikaanse met ʼn wonderlike pleknaam soos Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein of ʼn woord soos waatlemoenkonfytbottelproppe vorendag kom. Om beter te spel, moet jy net weet uit watter Lego-blokkies die woord bestaan.

Om mee te begin, het jy natuurlik ʼn klein, basiese woordeskat nodig van woorde wat jy wel reg kan spel. Jy moet byvoorbeeld weet dat lyding met ʼn lang y swaarkry beteken en dat die ander leiding in ʼn rigting laat gaan beteken. Dis hoekom dit ʼn baie slegte idee is as ʼn leier lyding gee. Glo my, ʼn leier wat lyding gee, gaan nie lank hou nie.

Met die twee Lego-blokkies ly en lei byderhand, kan jy dan woorde soos lydsaamheid en begeleiding reg spel. As jy bietjie daaroor nadink, sien jy in dat lydsaamheid met geduld tydens swaarkry te make het. Die begeleiding wat ʼn orreliste vir die gemeente gee, is wanneer sy hulle stemme in ʼn rigting laat gaan.

Wat jy eintlik doen, is om seker te maak die Lego-blokkie in jou hand druk jy op die regte plek en manier vas aan die volgende blokkie waarmee jy probeer bou.

Daarom doen ons in 15-Minuut-Afrikaans baie speletjies om woordstamme op te spoor en om nuwe woorde met daardie woordstamme te vorm. Ons probeer vir die kinders so veel as moontlik Lego-blokkies gee waarmee hulle hulle Afrikaans goed kan bou.

2. Speel met die woord

In my tweede wenk vir beter spelling moedig ek die kinders aan om bietjie rond te speel met ʼn woord waaroor hulle twyfel. Kom ons kyk as ‘n voorbeeld na hard teenoor hart.

Ons sê die stoel is hard maar die harde stoel. Deur bloot die woord op ʼn ander manier te gebruik, kan jy nou agterkom hierdie hard kry ʼn d aan die einde.

Dieselfde geld vir hart. As jy twyfel of daar ʼn d of ʼn t aan die einde van die woord kom, probeer die woord as ʼn meervoud te gebruik. Soos in dié sin: Dr. Chris Barnard het in sy lewe talle harte oorgeplant.

Afrikaans is gelukkig nie ʼn besonder moeilike taal om te leer praat of spel nie. As ons Frans gepraat het, moes ons vir ons kinders leer om dié woord met sy wavrag klinkers reg uit te spreek én reg te spel: bouilloire. Dit beteken ketel en is glo dié moeilikste woord vir nie-moedertaalsprekers van Frans om reg uit te spreek.

En as ons Wallies gepraat het, moes ons ons kinders leer om ʼn uil ʼn good-ee-hoo te noem, maar dit gwdihŵ te skryf. Vyf medeklinkers en net één verdwaalde klinkertjie? Hoe op aarde kom ʼn mens by good-ee-hoo uit?

Daar is altyd iets voor dankbaar te wees, of wat praat ek alles?

Nuuskierig oor 15-Minuut-Afrikaans? Gaan loer gerus in deur op die skakel hieronder te klik.

Taal en klei – baie in gemeen

Onthou jy nog dié dae?

“Wat is jou naam?” vra iemand vir jou kind.

“Naam,” antwoord hy.

“Nee, wat is jou naam?”

“Naam,” sê hy weer.

Dis die fase wanneer kinders net die laaste woord wat iemand vir hulle sê agterna papegaai. Al is hulle gewoonlik nog nie eens twee jaar oud nie, kan hulle aan die stemtoon hoor ʼn vraag word gevra. En sosiale wesentjies wat hulle is, weet hulle hulle moet antwoord, maar hulle het nog nie woorde om dit te doen nie.

ʼn Paar maande later begin hulle regtig praat en regtig antwoord. Teen vier jaar babbel hulle nie net vlot nie, hulle maak ook hulle eie woorde op. My twee het byvoorbeeld met ligkulling vir lugspieëling, omdat die lig mens kul, vorendag gekom. Hulle praat ook vandag nog van ʼn tiklig in plaas van ʼn flikkerlig, want die liggie maak mos tik-tik. Ek is seker jou kinders het ook hulle eie woorde opgemaak.

As jy ʼn tuisskoolma is, is die kans goed dat jy op een of ander stadium vir jou kinders tuisgemaakte klei gemaak het. Jy weet mos daardie soort klei wat mens met meel en sout en water en voedselkleursel maak. Die resep duik een of ander tyd op elke tuisskoolma se facebook bladsy op.

Jy moet aan jou kinders se moedertaalonderrig as klei-speel dink. Winkelklei is duur en dis hoekom ons emmers en emmers vol tuisgemaakte klei vir ons kinders maak. Dat hulle na hartelus daarmee kan speel. Gesprekke en taalspeletjies met jou kind is soos tuisgemaakte klei, waarvan jou kinders nooit genoeg kan kry nie.

As jy nou terugdink, dink jy nie jou kinders het baie, baie makliker geleer om te praat as wat hulle geleer het om te lees en skryf nie? Goed, jy moes reghelp.

“Nee, Sannie, nie sliegtuig nie, maar vvvliegtuig,” moes jy oor en oor sê.

Maar dit was kinderspeletjies in vergelyking met die gesukkel om hulle te leer lees en skryf, nie waar nie? Dis omdat taal in die eerste plek bedoel is om te gepraat te word, en nie om geskryf te word nie.

Tensy daar groot fout is, soos byvoorbeeld as iemand doof is, kan omtrent alle mense teen die tyd dat hulle vier jaar oud is, praat. Lees en skryf? Nie so vanselfsprekend nie. Die Verenigde Nasies reken dat 17% van die wêreld se bevolking vandag steeds nie glad kan lees en skryf nie.

Geskrewe taal is wonderlik, maar gesproke taal kom eerste

Kyk, vir my is die geskrewe woord wonderlik. Lees is vir my tweede natuur, want ek is ʼn visuele leerder, wat boeke verslind het vandat ek baie klein was. Ek dink die alfabet is fantasties. Kyk byvoorbeeld net ʼn bietjie na hierdie drie lettertjies.

b d p

 Al drie is basies ʼn bal en ʼn stok, maar waar jy die stok ten opsigte van die bal plaas, maak ʼn reuse verskil. As jy besef hoe eenders daardie drie merkies inderwaarheid lyk, is dit ongelooflik dat ons oë en breine hulle so blitsig kan onderskei dat ons so vinnig lees soos ons lees. Om te dink dat ons met net nog 22 ander simbooltjies, wat baie soos dié drie lyk, heelalle oopskryf, ideologieë bedink en harte leer oorplant.

Toe ek die eerste weergawe van 15-Minuut-Afrikaans geskryf het, het ek in my entoesiasme vir die geskrewe woord, alweer die fout gemaak om die skryfwerk te veel te maak. Een van die ma’s (dankie, Salomien!) wat die program vir my getoets het, het gesê haar seuntjie van tien is mal oor die skattejagdeel van die kursus, maar dat hy die skryfwerk langtand doen.

Asof ek nie met my twee, wat aanvanklik gesukkel het om te leer lees en skryf, my les geleer het nie. Ek het dadelik teruggegaan en die skryfwerk in 15-Minuut-Afrikaans minder gemaak.

Ek wil hê die klem moet in my kursus val op die werk wat jy mondeling saam met jou kinders doen. Die maak van nuwe woorde met ander woordstamme, die uitsnuffel van woordsoorte, die raaksien van woorde wat presies dieselfde gespel en gesê word, maar wat heeltemal verskillende goed beteken, is die belangrikste. Nie die skryfwerk nie.

Moenie te gou formele werk begin doen nie

Moenie jou kinders te gou in die blik van formele onderrig druk nie. Ek gaan dit weer sê. Moenie jou kinders te gou formeel begin skool nie. Onthou dat taal in die eerste plek bedoel is om gepráát te word. Gesels met hulle en laat hulle vir jou dinge terugvertel wat met hulle gebeur het of wat vir hulle interessant is. Lees vir hulle. Ek is vandag bitter spyt ek het nie meer gedigte vir my twee gelees nie. Niks vang ʼn taal se ritme en sê-krag so goed vas soos gedigte nie.

Jy tuisskool. Jy het nie nodig om jou kinders bladsye en bladsye vol te laat skryf nie. Geniet die klei-speel. Ook die speel met die klei van julle moedertaal. Daarmee lê jy die basis vir uitstekende taal-, lees- en skryfvaardigheid, wat  later kom.

Onthou, 15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod veral op 31 Desember. As jy nog nie ingeskryf het nie, moenie die kans by jou  laat verbygaan nie.

50-afslag

Pluk die mat uit onder die skeptiese siele

Dink net hoe jy die mat onder jou kritiese skoonsus / niggie / vriendin ( ja, die een met die super slim skoolkinders) gaan uitpluk as jou tuisgeskoolde bloedjies koeltjies van wederkerende voornaamwoorde begin praat. As jy 15-Minuut-Afrikaans begin gebruik, is dit heel moontlik, hoor, want week vir week maak die leerders met meer en meer Afrikaanse woordsoorte kennis.

Hulle werk elke dag met ʼn sin of twee uit ʼn storie, wat klaar in goeie, korrekte Afrikaanse geskryf is. Soos in ʼn skattejag moet hulle dan woordsoorte, soos naamwoorde en werkwoorde in die sin raaksien en merk.

Mettertyd gaan ons ook na sinsdele kyk, soos wat die onderwerp van die sin is en wat die voorwerp. Die ontleding wat saam met elke les gaan, is amper soos ʼn X-straal foto wat van die sin geneem is en wat die leerder insig gee in die onderbou van Afrikaans.

Hoekom moet kinders leer hoe hulle moedertaal se struktuur lyk? As ek kyk na die tientalle e-posse wat ek hieroor gekry het, ken ma’s soos jy reeds die antwoord op daardie vraag. Ken kinders hulle taal se struktuur, kan hulle beter skryf en hulle beter uitdruk. Om jou goed uit te druk, is seker die belangrikste vaardigheid wat enige mens moet aanleer. ʼn Vlot uitdrukkingsvermoë maak jou beroepslewe, jou gesinslewe en jou gemeenskapslewe makliker.

Om geleidelik leerders se taalvernuf uit te bou, het 15-Minuut-Afrikaans die volgende komponente:
·        Taalleer (soos woordsoorte en sinsdele)
·        Leestekens (hoe om dit reg te gebruik)
·        Woordeskat
·        Oorskryf

As dit na baie en moeilike werk klink, moenie bekommerd wees nie. Onthou, 15-Minuut-Afrikaans is klaar namens jou verpak. Boonop gaan ek en jy die leerinhoud happie vir happie vir die kinders voer.

Nog net ’n paar dae en dan hoop ek om aan te kondig dat 15-Minuut-Afrikaans uiteindelik beskikbaar is.

Wat op aarde het ’n kruiwa en ’n miskruier in gemeen?

Jare gelede toe ek vir my nagraadse onderwysdiploma geswot het, het die dosente iets by ons ingedril: ʼn goeie onderwyser het ʼn goeie verhouding met die kinders. Ek het toe nooit gaan skoolhou nie en liewer joernalis en skryfster geword, maar daardie HOD les was later vir my as tuisskoolma goud werd.

Vir haar is die lekkerste van tuisonderrig dat jou verhouding met jou kind beter word omdat daar inhoud tussen jou en jou kind is, sê ʼn tuisskoolvriendin eenkeer vir my. Julle het altyd iets om oor te praat.

Met dié opmerking en my HOD dosente se raad in gedagte het ek probeer om in 15-Minuut-Afrikaans vir ma’s invalshoeke vir gesprekke met hulle kinders te gee. Twee afdelings in die kursus help veral hiermee.

Die eerste is die woordeskat-deel. Plek-plek, as ek afgekom het op ʼn Afrikaanse woord met ʼn interessante herkoms, het ek dit in die onderwysersgids vir jou neergeskryf.

Jy hoef nie van hierdie bykomende notas gebruik te maak as jy nie wil nie. Afhangende hoeveel tyd jy op die spesifieke dag het en of jou kind daarin belangstel, gee die herkoms van ʼn woord soos “baadjie”, wat Afrikaans via Nederlands by Maleis geleen het, jou ʼn aanknopingspunt vir ʼn gesprek oor Afrikaans se geskiedenis. Dié notas gee jou voorstelle vir bietjie ekstra “inhoud” wat jy met jou kind(ers) kan deel.

Die tweede plek in 15-Minuut-Afrikaans waar kans vir lekker gesels met jou kind is, is by die woordstamme van woorde. ʼn Wenk van nog ʼn tuisskoolma, wat ook ʼn spraakterapeut is, het my laat besluit om woordstamme ook in te werk.

As kinders kan sien dat woorde familie is, verduidelik my slim spraakterapeut-vriendin, spel hulle beter, want dan kan hulle byvoorbeeld sien kruideniersware, miskruier en kruiwa het dieselfde stam. En daardie stam het iets met dra te doen het. Dan skryf die kinders hopelik nie “miskryer” verkeerd, omdat hulle gedink het die gogga kry die mis nie.

Wil jy meer inligting oor 15-Minuut-Afrikaans hê? Stuur gerus vir my ’n epos na: tuisskoolmarisa@gmail.com

Kaalvoet skool toe? Stukke beter!

Die een ding wat ek as tuisskoolma nooit wou doen nie, was skool by die huis. Van velle en velle vol oefeninge, toetse, rapporte en roosters het ek ver weggebly. Met my twee nou in hulle laat tienerjare, is ek so bly ons het tuisskool skoolloos en kaalvoet gedoen. Johannes (19) en Annamaria (17) kan vandag alles doen wat skoolkinders kan. Met een verskil: hulle het hul lus vir leer behou.

Mense let dikwels my twee kinders se blink oë op, die feit dat hulle steeds dink die wêreld is ʼn wonderlik-interessante plek, waar mens so baie kan ontdek. Belangriker nog: na al die jare van tuisonderrig, hou ek hou nog steeds baie van my kinders en dit lyk darem of hulle nog van my hou. Ek dink dis omdat ek (meestal, maar nie altyd nie, ek is net ʼn mens, hoor!) nie hulle slawedrywende juffrou was nie. Ek was hulle ma, wat saam met hulle vakke, feite en idees verken het, meestal deur net daaroor te gesels.

Met die ontwikkeling van my taalkursus het ek probeer om die belangrikste lesse wat ek oor tuisonderrig geleer het, vir ander Afrikaanse ma’s deur te gee. Daarom is 15-Minuut-Afrikaans in happiegrootte. Die lesse is gelaai met pitkos, maar is nie moed-breek-lank nie.

En o ja, jy het reg gelees, die kursus heet nou 15-Minuut-Afrikaans. Die klompie tuisskoolma’s wat die eerste hoofstukke vir my getoets het, het laat weet tien minute is bietjie min, vyftien is meer realisties.

Ek vorder goed moet die oplaai van die program. Nadat ek so pas weer terugvoering van ʼn tuisskoolma gekry het, wil ek net eers haar wenke inwerk.

Môre verduidelik ek vir jou hoekom 15-Minuut-Afrikaans jou kan help om meer gesprekke met jou kinders te hê, wat julle verhouding kan verbeter.

As jy meer inligting oor 15-Minuut-Afrikaans wil hê, stuur vir my ’n epos na: tuisskoolmarisa@gmail.com

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑