Dink net hoe jy die mat onder jou kritiese skoonsus / niggie / vriendin ( ja, die een met die super slim skoolkinders) gaan uitpluk as jou tuisgeskoolde bloedjies koeltjies van wederkerende voornaamwoorde begin praat. As jy 15-Minuut-Afrikaans begin gebruik, is dit heel moontlik, hoor, want week vir week maak die leerders met meer en meer Afrikaanse woordsoorte kennis.
Hulle werk elke dag met ʼn sin of twee uit ʼn storie, wat klaar in goeie, korrekte Afrikaanse geskryf is. Soos in ʼn skattejag moet hulle dan woordsoorte, soos naamwoorde en werkwoorde in die sin raaksien en merk.
Mettertyd gaan ons ook na sinsdele kyk, soos wat die onderwerp van die sin is en wat die voorwerp. Die ontleding wat saam met elke les gaan, is amper soos ʼn X-straal foto wat van die sin geneem is en wat die leerder insig gee in die onderbou van Afrikaans.
Hoekom moet kinders leer hoe hulle moedertaal se struktuur lyk? As ek kyk na die tientalle e-posse wat ek hieroor gekry het, ken ma’s soos jy reeds die antwoord op daardie vraag. Ken kinders hulle taal se struktuur, kan hulle beter skryf en hulle beter uitdruk. Om jou goed uit te druk, is seker die belangrikste vaardigheid wat enige mens moet aanleer. ʼn Vlot uitdrukkingsvermoë maak jou beroepslewe, jou gesinslewe en jou gemeenskapslewe makliker.
Om geleidelik leerders se taalvernuf uit te bou, het 15-Minuut-Afrikaans die volgende komponente:
· Taalleer (soos woordsoorte en sinsdele)
· Leestekens (hoe om dit reg te gebruik)
· Woordeskat
· Oorskryf
As dit na baie en moeilike werk klink, moenie bekommerd wees nie. Onthou, 15-Minuut-Afrikaans is klaar namens jou verpak. Boonop gaan ek en jy die leerinhoud happie vir happie vir die kinders voer.
Nog net ’n paar dae en dan hoop ek om aan te kondig dat 15-Minuut-Afrikaans uiteindelik beskikbaar is.
Laat 'n boodskap