Onthou jy nog dié dae?
“Wat is jou naam?” vra iemand vir jou kind.
“Naam,” antwoord hy.
“Nee, wat is jou naam?”
“Naam,” sê hy weer.
Dis die fase wanneer kinders net die laaste woord wat iemand vir hulle sê agterna papegaai. Al is hulle gewoonlik nog nie eens twee jaar oud nie, kan hulle aan die stemtoon hoor ʼn vraag word gevra. En sosiale wesentjies wat hulle is, weet hulle hulle moet antwoord, maar hulle het nog nie woorde om dit te doen nie.
ʼn Paar maande later begin hulle regtig praat en regtig antwoord. Teen vier jaar babbel hulle nie net vlot nie, hulle maak ook hulle eie woorde op. My twee het byvoorbeeld met ligkulling vir lugspieëling, omdat die lig mens kul, vorendag gekom. Hulle praat ook vandag nog van ʼn tiklig in plaas van ʼn flikkerlig, want die liggie maak mos tik-tik. Ek is seker jou kinders het ook hulle eie woorde opgemaak.
As jy ʼn tuisskoolma is, is die kans goed dat jy op een of ander stadium vir jou kinders tuisgemaakte klei gemaak het. Jy weet mos daardie soort klei wat mens met meel en sout en water en voedselkleursel maak. Die resep duik een of ander tyd op elke tuisskoolma se facebook bladsy op.
Jy moet aan jou kinders se moedertaalonderrig as klei-speel dink. Winkelklei is duur en dis hoekom ons emmers en emmers vol tuisgemaakte klei vir ons kinders maak. Dat hulle na hartelus daarmee kan speel. Gesprekke en taalspeletjies met jou kind is soos tuisgemaakte klei, waarvan jou kinders nooit genoeg kan kry nie.
As jy nou terugdink, dink jy nie jou kinders het baie, baie makliker geleer om te praat as wat hulle geleer het om te lees en skryf nie? Goed, jy moes reghelp.
“Nee, Sannie, nie sliegtuig nie, maar vvvliegtuig,” moes jy oor en oor sê.
Maar dit was kinderspeletjies in vergelyking met die gesukkel om hulle te leer lees en skryf, nie waar nie? Dis omdat taal in die eerste plek bedoel is om te gepraat te word, en nie om geskryf te word nie.
Tensy daar groot fout is, soos byvoorbeeld as iemand doof is, kan omtrent alle mense teen die tyd dat hulle vier jaar oud is, praat. Lees en skryf? Nie so vanselfsprekend nie. Die Verenigde Nasies reken dat 17% van die wêreld se bevolking vandag steeds nie glad kan lees en skryf nie.
Geskrewe taal is wonderlik, maar gesproke taal kom eerste
Kyk, vir my is die geskrewe woord wonderlik. Lees is vir my tweede natuur, want ek is ʼn visuele leerder, wat boeke verslind het vandat ek baie klein was. Ek dink die alfabet is fantasties. Kyk byvoorbeeld net ʼn bietjie na hierdie drie lettertjies.
b d p
Al drie is basies ʼn bal en ʼn stok, maar waar jy die stok ten opsigte van die bal plaas, maak ʼn reuse verskil. As jy besef hoe eenders daardie drie merkies inderwaarheid lyk, is dit ongelooflik dat ons oë en breine hulle so blitsig kan onderskei dat ons so vinnig lees soos ons lees. Om te dink dat ons met net nog 22 ander simbooltjies, wat baie soos dié drie lyk, heelalle oopskryf, ideologieë bedink en harte leer oorplant.
Toe ek die eerste weergawe van 15-Minuut-Afrikaans geskryf het, het ek in my entoesiasme vir die geskrewe woord, alweer die fout gemaak om die skryfwerk te veel te maak. Een van die ma’s (dankie, Salomien!) wat die program vir my getoets het, het gesê haar seuntjie van tien is mal oor die skattejagdeel van die kursus, maar dat hy die skryfwerk langtand doen.
Asof ek nie met my twee, wat aanvanklik gesukkel het om te leer lees en skryf, my les geleer het nie. Ek het dadelik teruggegaan en die skryfwerk in 15-Minuut-Afrikaans minder gemaak.
Ek wil hê die klem moet in my kursus val op die werk wat jy mondeling saam met jou kinders doen. Die maak van nuwe woorde met ander woordstamme, die uitsnuffel van woordsoorte, die raaksien van woorde wat presies dieselfde gespel en gesê word, maar wat heeltemal verskillende goed beteken, is die belangrikste. Nie die skryfwerk nie.
Moenie te gou formele werk begin doen nie
Moenie jou kinders te gou in die blik van formele onderrig druk nie. Ek gaan dit weer sê. Moenie jou kinders te gou formeel begin skool nie. Onthou dat taal in die eerste plek bedoel is om gepráát te word. Gesels met hulle en laat hulle vir jou dinge terugvertel wat met hulle gebeur het of wat vir hulle interessant is. Lees vir hulle. Ek is vandag bitter spyt ek het nie meer gedigte vir my twee gelees nie. Niks vang ʼn taal se ritme en sê-krag so goed vas soos gedigte nie.
Jy tuisskool. Jy het nie nodig om jou kinders bladsye en bladsye vol te laat skryf nie. Geniet die klei-speel. Ook die speel met die klei van julle moedertaal. Daarmee lê jy die basis vir uitstekende taal-, lees- en skryfvaardigheid, wat later kom.
Onthou, 15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod veral op 31 Desember. As jy nog nie ingeskryf het nie, moenie die kans by jou laat verbygaan nie.
Laat 'n boodskap