Die uwe spelle nie te sleg nie. Daar is egter ʼn paar spelwoorde in Afrikaans wat my pootjie en wat ek maar keer op keer moet naslaan.
Meestal wanneer om twee woorde los en wanneer om hulle vas te skryf.
Dood maklik. Een of twee woorde? En ook al? Wat van weer eens?
Enige woord wat “terug” in het, laat my ook kopkrap. Is dit terug vertel of terugvertel?
Terugkeer of terug keer? Teruggaan of terug gaan?
Dan twyfel ek ook baie keer wanneer om d en wanneer om t te gebruik. Sê mens ingelegte vrugte of praat jy van ingelegde vrugte?
Sal dit nie lekker wees nie as ons in 15-Minuut-Afrikaans vorendag kan kom met maklike maniere om dié twee spelling-kopsere op te los nie? Iets vmaklik soos daardie rympie wat ons vir ons kinders leer om hulle te help om “school” te spel: Slangetjie, hoepeltjie, hê, wieletjie, wieletjie, lê.
Dit sal kom, dit sal kom. Intussen deel ek solank twee ander gereedskapstukke om beter te spel uit.
1. Kyk na die stamwoorde
Afrikaans is ʼn Lego-blokkie-taal wat met ʼn woord hier en ʼn brokstuk van ʼn ander woord daar nuwe woorde opmaak. Nes sy Germaanse sussietale. Daarom kan Afrikaanse met ʼn wonderlike pleknaam soos Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein of ʼn woord soos waatlemoenkonfytbottelproppe vorendag kom. Om beter te spel, moet jy net weet uit watter Lego-blokkies die woord bestaan.
Om mee te begin, het jy natuurlik ʼn klein, basiese woordeskat nodig van woorde wat jy wel reg kan spel. Jy moet byvoorbeeld weet dat lyding met ʼn lang y swaarkry beteken en dat die ander leiding in ʼn rigting laat gaan beteken. Dis hoekom dit ʼn baie slegte idee is as ʼn leier lyding gee. Glo my, ʼn leier wat lyding gee, gaan nie lank hou nie.
Met die twee Lego-blokkies ly en lei byderhand, kan jy dan woorde soos lydsaamheid en begeleiding reg spel. As jy bietjie daaroor nadink, sien jy in dat lydsaamheid met geduld tydens swaarkry te make het. Die begeleiding wat ʼn orreliste vir die gemeente gee, is wanneer sy hulle stemme in ʼn rigting laat gaan.
Wat jy eintlik doen, is om seker te maak die Lego-blokkie in jou hand druk jy op die regte plek en manier vas aan die volgende blokkie waarmee jy probeer bou.
Daarom doen ons in 15-Minuut-Afrikaans baie speletjies om woordstamme op te spoor en om nuwe woorde met daardie woordstamme te vorm. Ons probeer vir die kinders so veel as moontlik Lego-blokkies gee waarmee hulle hulle Afrikaans goed kan bou.
2. Speel met die woord
In my tweede wenk vir beter spelling moedig ek die kinders aan om bietjie rond te speel met ʼn woord waaroor hulle twyfel. Kom ons kyk as ‘n voorbeeld na hard teenoor hart.
Ons sê die stoel is hard maar die harde stoel. Deur bloot die woord op ʼn ander manier te gebruik, kan jy nou agterkom hierdie hard kry ʼn d aan die einde.
Dieselfde geld vir hart. As jy twyfel of daar ʼn d of ʼn t aan die einde van die woord kom, probeer die woord as ʼn meervoud te gebruik. Soos in dié sin: Dr. Chris Barnard het in sy lewe talle harte oorgeplant.
Afrikaans is gelukkig nie ʼn besonder moeilike taal om te leer praat of spel nie. As ons Frans gepraat het, moes ons vir ons kinders leer om dié woord met sy wavrag klinkers reg uit te spreek én reg te spel: bouilloire. Dit beteken ketel en is glo dié moeilikste woord vir nie-moedertaalsprekers van Frans om reg uit te spreek.
En as ons Wallies gepraat het, moes ons ons kinders leer om ʼn uil ʼn good-ee-hoo te noem, maar dit gwdihŵ te skryf. Vyf medeklinkers en net één verdwaalde klinkertjie? Hoe op aarde kom ʼn mens by good-ee-hoo uit?
Daar is altyd iets voor dankbaar te wees, of wat praat ek alles?
Nuuskierig oor 15-Minuut-Afrikaans? Gaan loer gerus in deur op die skakel hieronder te klik.
Laat 'n boodskap