Party mense is groter as die lewe self. Leendert van Oostrum was een van hulle. In sy wonderlike stem, soos ʼn Shakespeare akteur sʼn, kan ek hom nou nog pedagogiese ruimte hoor sê. Dié ruimte is ʼn uitdinksel van opfoeterkundiges wat wil hê ʼn mens moet kinders se leerplek stroop van die alledaagse lewe. Kinders leer kwansuis die beste in so ʼn steriele omgewing. Leendert het gedink dis twak. En hy het hard en duidelik gesê dis sommer twak.
As iemand wat al amper twintig jaar tuisskool, het ek Leendert deur die jare baie vrae gevra. Meestal het hy my nie direk geantwoord nie, maar my self na antwoorde laat soek. My laaste vraag aan hom was vroeër die jaar op die tuisonderwysposlys: wat op aarde is konstruktivisme? Hy het my nooit geantwoord nie. Miskien omdat hy siek geword het, maar waarskynliker omdat hy, soos gewoonlik, wou hê ek moes self die antwoord kry.
Ek het toe bietjie gaan googleloer wat konstruktivisme is. Konstruktivisme is ʼn groot woord, maar as ʼn mens mooi na die woord kyk, sien jy konstruksie kruip daar iewers weg. As jy eers die konstruksie deel van die woord kan uitmaak, raak dit makliker.
Konstruktivisme is ʼn skool in die Opvoedkunde wat nie glo ʼn kind is ʼn leë houer wat die onderwyser in die pedagogiese ruimte vol kennis prop nie. Konstruktivisme sê die leerder maak sy eie betekenis van die leerstof, vorm sy eie insig en bou sy eie kennissisteem uit.
Eers toe ek 15-Minuut-Afrikaans aanmekaar begin sit, het ek besef die program volg ʼn konstruktivistiese benadering. Neem die werk van Week 1 byvoorbeeld. Vooraf kry die leerders ʼn bietjie leerinhoud, wat verduidelik dat ʼn naamwoord naam gee aan mense, dinge, diere, plekke en idees. Vir die res van die week word hulle gekonfronteer met Afrikaanse sinne waarin hulle die naamwoorde moet opspoor. Omdat hulle self met die sinnetjies stoei, kom die begrip.
Naamwoorde is net die begin. Week vir week werk ons deur al Afrikaans se woordsoorte, maar ook deur sinskonstruksie en hoe om jou skryfwerk laat sing deur byvoorbeeld die openinge van jou sinne af te wissel en beeldspraak te gebruik. Ons leer woordstamme eien en praat oor woorde wat maklik verwar word.
As die insig eers gekom het, hoop ek dit sal vir die leerders wees asof hulle ʼn X-straalfoto van die sinne sien en die onderliggende geraamte van hulle taal kan begin uitmaak. Intuïtief, maar miskien omdat ek deur die jare agtergekom het ʼn konstruktivistiese benadering wérk, het ek 15-Minuut-Afrikaans op dié model geskoei.
In my laaste e-pos van 2016 is dit dus gepas om ʼn saluut te gee aan ʼn groot gees in ons geledere wat heengegaan het. Dankie vir jou talle nie-antwoorde, Leendert. Dankie dat jy my oor die jare as tuisskoolma geleer het om my eie antwoorde te soek en om my eie betekenisse te vind. En dankie dat jy my gewys het hoe ek deur dié werkswyse my kinders kon leer om dieselfde te doen.
Openingsaanbod verval oor ‘n paar dae
15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod verval om middernag op 31 Desember. Jy gaan darem sewe uur grasie hê as jy te lekker Oujaar gehou het, want die tyd geld vir Amerikaanse Ooskustyd, wat sewe uur later as Suid-Afrika is. Klik op die prentjie hieronder as jy sommer nóú wil gaan inteken. En onthou om jou vriende betyds te laat weet van die program.
Laat 'n boodskap