Soek

Tuisskool in Afrikaans

Kategorie

Afrikaans

As dit voel of jou kinders niks leer nie …

Party mense is groter as die lewe self. Leendert van Oostrum was een van hulle. In sy wonderlike stem, soos ʼn Shakespeare akteur sʼn, kan ek hom nou nog pedagogiese ruimte hoor sê. Dié ruimte is ʼn uitdinksel van opfoeterkundiges wat wil hê ʼn mens moet kinders se leerplek stroop van die alledaagse lewe. Kinders leer kwansuis die beste in so ʼn steriele omgewing. Leendert het gedink dis twak. En hy het hard en duidelik gesê dis sommer twak.

As iemand wat al amper twintig jaar tuisskool, het ek Leendert deur die jare baie vrae gevra. Meestal het hy my nie direk geantwoord nie, maar my self na antwoorde laat soek. My laaste vraag aan hom was vroeër die jaar op die tuisonderwysposlys: wat op aarde is konstruktivisme? Hy het my nooit geantwoord nie. Miskien omdat hy siek geword het, maar waarskynliker omdat hy, soos gewoonlik, wou hê ek moes self die antwoord kry.

Ek het toe bietjie gaan googleloer wat konstruktivisme is. Konstruktivisme is ʼn groot woord, maar as ʼn mens mooi na die woord kyk, sien jy konstruksie kruip daar iewers weg. As jy eers die konstruksie deel van die woord kan uitmaak, raak dit makliker.

Konstruktivisme is ʼn skool in die Opvoedkunde wat nie glo ʼn kind is ʼn leë houer wat die onderwyser in die pedagogiese ruimte vol kennis prop nie. Konstruktivisme sê die leerder maak sy eie betekenis van die leerstof, vorm sy eie insig en bou sy eie kennissisteem uit.

Eers toe ek 15-Minuut-Afrikaans aanmekaar begin sit, het ek besef die program volg ʼn konstruktivistiese benadering. Neem die werk van Week 1 byvoorbeeld. Vooraf kry die leerders ʼn bietjie leerinhoud, wat verduidelik dat ʼn naamwoord naam gee aan mense, dinge, diere, plekke en idees. Vir die res van die week word hulle gekonfronteer met Afrikaanse sinne waarin hulle die naamwoorde moet opspoor. Omdat hulle self met die sinnetjies stoei, kom die begrip.

Naamwoorde is net die begin. Week vir week werk ons deur al Afrikaans se woordsoorte, maar ook deur sinskonstruksie en hoe om jou skryfwerk laat sing deur byvoorbeeld die openinge van jou sinne af te wissel en beeldspraak te gebruik. Ons leer woordstamme eien en praat oor woorde wat maklik verwar word.

As die insig eers gekom het, hoop ek dit sal vir die leerders wees asof hulle ʼn X-straalfoto van die sinne sien en die onderliggende geraamte van hulle taal kan begin uitmaak. Intuïtief, maar miskien omdat ek deur die jare agtergekom het ʼn konstruktivistiese benadering wérk, het ek 15-Minuut-Afrikaans op dié model geskoei.

In my laaste e-pos van 2016 is dit dus gepas om ʼn saluut te gee aan ʼn groot gees in ons geledere wat heengegaan het. Dankie vir jou talle nie-antwoorde, Leendert. Dankie dat jy my oor die jare as tuisskoolma geleer het om my eie antwoorde te soek en om my eie betekenisse te vind. En dankie dat jy my gewys het hoe ek deur dié werkswyse my kinders kon leer om dieselfde te doen.

Openingsaanbod verval oor ‘n paar dae

15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod verval om middernag op 31 Desember. Jy gaan darem sewe uur grasie hê as jy te lekker Oujaar gehou het, want die tyd geld vir Amerikaanse Ooskustyd, wat sewe uur later as Suid-Afrika is. Klik op die prentjie hieronder as jy sommer nóú wil gaan inteken. En onthou om jou vriende betyds te laat weet van die program.

50-afslag-met-vervaldatum

Hoekom ons skryf soos ons praat

Ons skryf soos ons praat. Vandat mense Afrikaans begin neerskryf het, gebruik hulle dié slagspreuk. In dié opsig is Afrikaans soos Spaans, en glad nie soos Frans nie. In Spaans, ʼn fonetiese taal net soos Afrikaans, word elke letter uitgespreek.

In Frans is daar hope letters wat geskryf word, maar nie gesê word nie. Byvoorbeeld dié tongknoper grenouille, wat padda beteken, en wat green-u-eey uitgespreek word.

Hoekom het Frans daardie onuitgespreekte klanke in haar skryftaal behou? Die Franse Taal-Akademie se amptelike antwoord? Hulle wil hê Frans-praters moet kan sien waar hulle woorde vandaan kom. In sy spelling word elke woord se geskiedenis vasgevang.

ʼn Mier, wat vir altyd in ʼn stuk amber vasgevang is, is die prentjie wat by my opgekom het toe ek hiervan lees. Ek veronderstel die Académie française se redes sluit so bietjie aan by my idee dat ons stamwoorde in 15-Minuut-Afrikaans leer raaksien.

So van Afrikaans gepraat. Boeta, neem ons die reël dat ons skryf soos ons praat ernstig op. Ons skryf letterlik presies nes ons praat. Moeilikheid is, ons praat verkeerd. En die uwe is hierby ingesluit.

Ek was geskok, geskok, seg ek jou, om te hoor hoe ek my klanke ontrond toe ek die promosievideo vir 15-Minuut-Afrikaans moes maak. Met die redigeer van die video moes ek deur die pynlike proses gaan om oor en oor na my daardie ontronding te luister.

Nou weet ek hoekom ek in my lewe nooit ʼn strandhuis sal besit nie. Dis omdat ek nie strôndhuis met die nodige deftigheid uitspreek nie. Dis een van my nuwejaarsvoornemens om netjieser Afrikaans te praat. Ek wil nie meer hys sê nie, maar h-ui-s. Nou nie so óór rond soos strôndhuis nie, net met ʼn mooi ronde klanke in die middel van woord.

In 15-Minuut-Afrikaans gaan jy weer en weer woorde teëkom, wat ons verkeerd spel omdat ons hulle verkeerd uitspreek. Daarom gaan ons oefen om hulle reg te sê.

Beter uitspraak is my derde wenk om beter te spel. Ek het jou mos al vertel dat as jy stamwoorde kan raaksien en bietjie met ʼn woord rondspeel, jy baie keer kan agterkom hoe om hom reg te spel.

Die een ding wat ek nie wil hê nie is dat ons kinders lyste en lyste spelwoorde uit hulle koppe leer. Ons wil liewer vir hulle gereedskapstukke gee waarmee hulle kan uitredeneer wat die regte spelling is.

As jy nog sulke nuttige gereedskappies het om Afrikaanse spelling makliker te maak, laat hoor gerus van jou.

Wil jy gaan inloer en sien waaroor 15-Minuut-Afrikaans alles gaan? Klik dan hier:

15-Minuut-Afrikaans: 50% af, maar net tot 31 Desember 2016

 

 

 

 

Afrikaans is ‘n Lego-blokkie-taal

Die uwe spelle nie te sleg nie. Daar is egter ʼn paar spelwoorde in Afrikaans wat my pootjie en wat ek maar keer op keer moet naslaan.

Meestal wanneer om twee woorde los en wanneer om hulle vas te skryf.

Dood maklik. Een of twee woorde? En ook al? Wat van weer eens?

Enige woord wat “terug” in het, laat my ook kopkrap. Is dit terug vertel of terugvertel?

Terugkeer of terug keer? Teruggaan of terug gaan?

Dan twyfel ek ook baie keer wanneer om d en wanneer om t te gebruik. Sê mens ingelegte vrugte of praat jy van ingelegde vrugte?

Sal dit nie lekker wees nie as ons in 15-Minuut-Afrikaans vorendag kan kom met maklike maniere om dié twee spelling-kopsere op te los nie? Iets vmaklik soos daardie rympie wat ons vir ons kinders leer om hulle te help om “school” te spel: Slangetjie, hoepeltjie, hê, wieletjie, wieletjie, lê.

Dit sal kom, dit sal kom. Intussen deel ek solank twee ander gereedskapstukke om beter te spel uit.

1. Kyk na die stamwoorde

Afrikaans is ʼn Lego-blokkie-taal wat met ʼn woord hier en ʼn brokstuk van ʼn ander woord daar nuwe woorde opmaak. Nes sy Germaanse sussietale. Daarom kan Afrikaanse met ʼn wonderlike pleknaam soos Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein of ʼn woord soos waatlemoenkonfytbottelproppe vorendag kom. Om beter te spel, moet jy net weet uit watter Lego-blokkies die woord bestaan.

Om mee te begin, het jy natuurlik ʼn klein, basiese woordeskat nodig van woorde wat jy wel reg kan spel. Jy moet byvoorbeeld weet dat lyding met ʼn lang y swaarkry beteken en dat die ander leiding in ʼn rigting laat gaan beteken. Dis hoekom dit ʼn baie slegte idee is as ʼn leier lyding gee. Glo my, ʼn leier wat lyding gee, gaan nie lank hou nie.

Met die twee Lego-blokkies ly en lei byderhand, kan jy dan woorde soos lydsaamheid en begeleiding reg spel. As jy bietjie daaroor nadink, sien jy in dat lydsaamheid met geduld tydens swaarkry te make het. Die begeleiding wat ʼn orreliste vir die gemeente gee, is wanneer sy hulle stemme in ʼn rigting laat gaan.

Wat jy eintlik doen, is om seker te maak die Lego-blokkie in jou hand druk jy op die regte plek en manier vas aan die volgende blokkie waarmee jy probeer bou.

Daarom doen ons in 15-Minuut-Afrikaans baie speletjies om woordstamme op te spoor en om nuwe woorde met daardie woordstamme te vorm. Ons probeer vir die kinders so veel as moontlik Lego-blokkies gee waarmee hulle hulle Afrikaans goed kan bou.

2. Speel met die woord

In my tweede wenk vir beter spelling moedig ek die kinders aan om bietjie rond te speel met ʼn woord waaroor hulle twyfel. Kom ons kyk as ‘n voorbeeld na hard teenoor hart.

Ons sê die stoel is hard maar die harde stoel. Deur bloot die woord op ʼn ander manier te gebruik, kan jy nou agterkom hierdie hard kry ʼn d aan die einde.

Dieselfde geld vir hart. As jy twyfel of daar ʼn d of ʼn t aan die einde van die woord kom, probeer die woord as ʼn meervoud te gebruik. Soos in dié sin: Dr. Chris Barnard het in sy lewe talle harte oorgeplant.

Afrikaans is gelukkig nie ʼn besonder moeilike taal om te leer praat of spel nie. As ons Frans gepraat het, moes ons vir ons kinders leer om dié woord met sy wavrag klinkers reg uit te spreek én reg te spel: bouilloire. Dit beteken ketel en is glo dié moeilikste woord vir nie-moedertaalsprekers van Frans om reg uit te spreek.

En as ons Wallies gepraat het, moes ons ons kinders leer om ʼn uil ʼn good-ee-hoo te noem, maar dit gwdihŵ te skryf. Vyf medeklinkers en net één verdwaalde klinkertjie? Hoe op aarde kom ʼn mens by good-ee-hoo uit?

Daar is altyd iets voor dankbaar te wees, of wat praat ek alles?

Nuuskierig oor 15-Minuut-Afrikaans? Gaan loer gerus in deur op die skakel hieronder te klik.

Taal en klei – baie in gemeen

Onthou jy nog dié dae?

“Wat is jou naam?” vra iemand vir jou kind.

“Naam,” antwoord hy.

“Nee, wat is jou naam?”

“Naam,” sê hy weer.

Dis die fase wanneer kinders net die laaste woord wat iemand vir hulle sê agterna papegaai. Al is hulle gewoonlik nog nie eens twee jaar oud nie, kan hulle aan die stemtoon hoor ʼn vraag word gevra. En sosiale wesentjies wat hulle is, weet hulle hulle moet antwoord, maar hulle het nog nie woorde om dit te doen nie.

ʼn Paar maande later begin hulle regtig praat en regtig antwoord. Teen vier jaar babbel hulle nie net vlot nie, hulle maak ook hulle eie woorde op. My twee het byvoorbeeld met ligkulling vir lugspieëling, omdat die lig mens kul, vorendag gekom. Hulle praat ook vandag nog van ʼn tiklig in plaas van ʼn flikkerlig, want die liggie maak mos tik-tik. Ek is seker jou kinders het ook hulle eie woorde opgemaak.

As jy ʼn tuisskoolma is, is die kans goed dat jy op een of ander stadium vir jou kinders tuisgemaakte klei gemaak het. Jy weet mos daardie soort klei wat mens met meel en sout en water en voedselkleursel maak. Die resep duik een of ander tyd op elke tuisskoolma se facebook bladsy op.

Jy moet aan jou kinders se moedertaalonderrig as klei-speel dink. Winkelklei is duur en dis hoekom ons emmers en emmers vol tuisgemaakte klei vir ons kinders maak. Dat hulle na hartelus daarmee kan speel. Gesprekke en taalspeletjies met jou kind is soos tuisgemaakte klei, waarvan jou kinders nooit genoeg kan kry nie.

As jy nou terugdink, dink jy nie jou kinders het baie, baie makliker geleer om te praat as wat hulle geleer het om te lees en skryf nie? Goed, jy moes reghelp.

“Nee, Sannie, nie sliegtuig nie, maar vvvliegtuig,” moes jy oor en oor sê.

Maar dit was kinderspeletjies in vergelyking met die gesukkel om hulle te leer lees en skryf, nie waar nie? Dis omdat taal in die eerste plek bedoel is om te gepraat te word, en nie om geskryf te word nie.

Tensy daar groot fout is, soos byvoorbeeld as iemand doof is, kan omtrent alle mense teen die tyd dat hulle vier jaar oud is, praat. Lees en skryf? Nie so vanselfsprekend nie. Die Verenigde Nasies reken dat 17% van die wêreld se bevolking vandag steeds nie glad kan lees en skryf nie.

Geskrewe taal is wonderlik, maar gesproke taal kom eerste

Kyk, vir my is die geskrewe woord wonderlik. Lees is vir my tweede natuur, want ek is ʼn visuele leerder, wat boeke verslind het vandat ek baie klein was. Ek dink die alfabet is fantasties. Kyk byvoorbeeld net ʼn bietjie na hierdie drie lettertjies.

b d p

 Al drie is basies ʼn bal en ʼn stok, maar waar jy die stok ten opsigte van die bal plaas, maak ʼn reuse verskil. As jy besef hoe eenders daardie drie merkies inderwaarheid lyk, is dit ongelooflik dat ons oë en breine hulle so blitsig kan onderskei dat ons so vinnig lees soos ons lees. Om te dink dat ons met net nog 22 ander simbooltjies, wat baie soos dié drie lyk, heelalle oopskryf, ideologieë bedink en harte leer oorplant.

Toe ek die eerste weergawe van 15-Minuut-Afrikaans geskryf het, het ek in my entoesiasme vir die geskrewe woord, alweer die fout gemaak om die skryfwerk te veel te maak. Een van die ma’s (dankie, Salomien!) wat die program vir my getoets het, het gesê haar seuntjie van tien is mal oor die skattejagdeel van die kursus, maar dat hy die skryfwerk langtand doen.

Asof ek nie met my twee, wat aanvanklik gesukkel het om te leer lees en skryf, my les geleer het nie. Ek het dadelik teruggegaan en die skryfwerk in 15-Minuut-Afrikaans minder gemaak.

Ek wil hê die klem moet in my kursus val op die werk wat jy mondeling saam met jou kinders doen. Die maak van nuwe woorde met ander woordstamme, die uitsnuffel van woordsoorte, die raaksien van woorde wat presies dieselfde gespel en gesê word, maar wat heeltemal verskillende goed beteken, is die belangrikste. Nie die skryfwerk nie.

Moenie te gou formele werk begin doen nie

Moenie jou kinders te gou in die blik van formele onderrig druk nie. Ek gaan dit weer sê. Moenie jou kinders te gou formeel begin skool nie. Onthou dat taal in die eerste plek bedoel is om gepráát te word. Gesels met hulle en laat hulle vir jou dinge terugvertel wat met hulle gebeur het of wat vir hulle interessant is. Lees vir hulle. Ek is vandag bitter spyt ek het nie meer gedigte vir my twee gelees nie. Niks vang ʼn taal se ritme en sê-krag so goed vas soos gedigte nie.

Jy tuisskool. Jy het nie nodig om jou kinders bladsye en bladsye vol te laat skryf nie. Geniet die klei-speel. Ook die speel met die klei van julle moedertaal. Daarmee lê jy die basis vir uitstekende taal-, lees- en skryfvaardigheid, wat  later kom.

Onthou, 15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod veral op 31 Desember. As jy nog nie ingeskryf het nie, moenie die kans by jou  laat verbygaan nie.

50-afslag

Pluk die mat uit onder die skeptiese siele

Dink net hoe jy die mat onder jou kritiese skoonsus / niggie / vriendin ( ja, die een met die super slim skoolkinders) gaan uitpluk as jou tuisgeskoolde bloedjies koeltjies van wederkerende voornaamwoorde begin praat. As jy 15-Minuut-Afrikaans begin gebruik, is dit heel moontlik, hoor, want week vir week maak die leerders met meer en meer Afrikaanse woordsoorte kennis.

Hulle werk elke dag met ʼn sin of twee uit ʼn storie, wat klaar in goeie, korrekte Afrikaanse geskryf is. Soos in ʼn skattejag moet hulle dan woordsoorte, soos naamwoorde en werkwoorde in die sin raaksien en merk.

Mettertyd gaan ons ook na sinsdele kyk, soos wat die onderwerp van die sin is en wat die voorwerp. Die ontleding wat saam met elke les gaan, is amper soos ʼn X-straal foto wat van die sin geneem is en wat die leerder insig gee in die onderbou van Afrikaans.

Hoekom moet kinders leer hoe hulle moedertaal se struktuur lyk? As ek kyk na die tientalle e-posse wat ek hieroor gekry het, ken ma’s soos jy reeds die antwoord op daardie vraag. Ken kinders hulle taal se struktuur, kan hulle beter skryf en hulle beter uitdruk. Om jou goed uit te druk, is seker die belangrikste vaardigheid wat enige mens moet aanleer. ʼn Vlot uitdrukkingsvermoë maak jou beroepslewe, jou gesinslewe en jou gemeenskapslewe makliker.

Om geleidelik leerders se taalvernuf uit te bou, het 15-Minuut-Afrikaans die volgende komponente:
·        Taalleer (soos woordsoorte en sinsdele)
·        Leestekens (hoe om dit reg te gebruik)
·        Woordeskat
·        Oorskryf

As dit na baie en moeilike werk klink, moenie bekommerd wees nie. Onthou, 15-Minuut-Afrikaans is klaar namens jou verpak. Boonop gaan ek en jy die leerinhoud happie vir happie vir die kinders voer.

Nog net ’n paar dae en dan hoop ek om aan te kondig dat 15-Minuut-Afrikaans uiteindelik beskikbaar is.

Wat op aarde het ’n kruiwa en ’n miskruier in gemeen?

Jare gelede toe ek vir my nagraadse onderwysdiploma geswot het, het die dosente iets by ons ingedril: ʼn goeie onderwyser het ʼn goeie verhouding met die kinders. Ek het toe nooit gaan skoolhou nie en liewer joernalis en skryfster geword, maar daardie HOD les was later vir my as tuisskoolma goud werd.

Vir haar is die lekkerste van tuisonderrig dat jou verhouding met jou kind beter word omdat daar inhoud tussen jou en jou kind is, sê ʼn tuisskoolvriendin eenkeer vir my. Julle het altyd iets om oor te praat.

Met dié opmerking en my HOD dosente se raad in gedagte het ek probeer om in 15-Minuut-Afrikaans vir ma’s invalshoeke vir gesprekke met hulle kinders te gee. Twee afdelings in die kursus help veral hiermee.

Die eerste is die woordeskat-deel. Plek-plek, as ek afgekom het op ʼn Afrikaanse woord met ʼn interessante herkoms, het ek dit in die onderwysersgids vir jou neergeskryf.

Jy hoef nie van hierdie bykomende notas gebruik te maak as jy nie wil nie. Afhangende hoeveel tyd jy op die spesifieke dag het en of jou kind daarin belangstel, gee die herkoms van ʼn woord soos “baadjie”, wat Afrikaans via Nederlands by Maleis geleen het, jou ʼn aanknopingspunt vir ʼn gesprek oor Afrikaans se geskiedenis. Dié notas gee jou voorstelle vir bietjie ekstra “inhoud” wat jy met jou kind(ers) kan deel.

Die tweede plek in 15-Minuut-Afrikaans waar kans vir lekker gesels met jou kind is, is by die woordstamme van woorde. ʼn Wenk van nog ʼn tuisskoolma, wat ook ʼn spraakterapeut is, het my laat besluit om woordstamme ook in te werk.

As kinders kan sien dat woorde familie is, verduidelik my slim spraakterapeut-vriendin, spel hulle beter, want dan kan hulle byvoorbeeld sien kruideniersware, miskruier en kruiwa het dieselfde stam. En daardie stam het iets met dra te doen het. Dan skryf die kinders hopelik nie “miskryer” verkeerd, omdat hulle gedink het die gogga kry die mis nie.

Wil jy meer inligting oor 15-Minuut-Afrikaans hê? Stuur gerus vir my ’n epos na: tuisskoolmarisa@gmail.com

Kaalvoet skool toe? Stukke beter!

Die een ding wat ek as tuisskoolma nooit wou doen nie, was skool by die huis. Van velle en velle vol oefeninge, toetse, rapporte en roosters het ek ver weggebly. Met my twee nou in hulle laat tienerjare, is ek so bly ons het tuisskool skoolloos en kaalvoet gedoen. Johannes (19) en Annamaria (17) kan vandag alles doen wat skoolkinders kan. Met een verskil: hulle het hul lus vir leer behou.

Mense let dikwels my twee kinders se blink oë op, die feit dat hulle steeds dink die wêreld is ʼn wonderlik-interessante plek, waar mens so baie kan ontdek. Belangriker nog: na al die jare van tuisonderrig, hou ek hou nog steeds baie van my kinders en dit lyk darem of hulle nog van my hou. Ek dink dis omdat ek (meestal, maar nie altyd nie, ek is net ʼn mens, hoor!) nie hulle slawedrywende juffrou was nie. Ek was hulle ma, wat saam met hulle vakke, feite en idees verken het, meestal deur net daaroor te gesels.

Met die ontwikkeling van my taalkursus het ek probeer om die belangrikste lesse wat ek oor tuisonderrig geleer het, vir ander Afrikaanse ma’s deur te gee. Daarom is 15-Minuut-Afrikaans in happiegrootte. Die lesse is gelaai met pitkos, maar is nie moed-breek-lank nie.

En o ja, jy het reg gelees, die kursus heet nou 15-Minuut-Afrikaans. Die klompie tuisskoolma’s wat die eerste hoofstukke vir my getoets het, het laat weet tien minute is bietjie min, vyftien is meer realisties.

Ek vorder goed moet die oplaai van die program. Nadat ek so pas weer terugvoering van ʼn tuisskoolma gekry het, wil ek net eers haar wenke inwerk.

Môre verduidelik ek vir jou hoekom 15-Minuut-Afrikaans jou kan help om meer gesprekke met jou kinders te hê, wat julle verhouding kan verbeter.

As jy meer inligting oor 15-Minuut-Afrikaans wil hê, stuur vir my ’n epos na: tuisskoolmarisa@gmail.com

Afrikaans, asseblief! Vir tuisskool ook

ʼn Tuisskoolma vra of dit sin maak om jou kind in Afrikaans te tuisskool as sy eendag buitendien in Engels universiteit toe moet gaan. Dis al oor en oor bewys moedertaalonderwys is altyd beter. Afrikaanse tuisskoolouers moet soveel as moontlik van hulle tuisonderrig in Afrikaans doen.

As moedertaalspreker is jou Afrikaanse woordeskat en begrip soveel groter as in jou tweede taal en dieselfde geld vir jou kind.

Wat is my beste raad vir ʼn tuisskoolouer met kinders in die laerskool? Moenie met ʼn formele leerplan begin voor die kind nie omtrent veertien jaar oud is nie. Hy sal jou self laat agterkom dat hy nou sy kennis wil begin sistematiseer en dis wanneer jy met vakonderrig begin.

book-read-reading-blanket-79697

Moet jou kinders dan soos werfhoendertjies by die huis rondhol? Nee. Gee vir hulle take en verantwoordelikhede. Laat hulle eksperimente doen en dinge ondersoek, speel speletjies, doen informele Wiskunde in die kombuis en sorg dat hulle baie tyd buite deurbring.

Laat hulle lees of lees vir hulle voor. Stories is die nodigste, maar algemene wetenskapboeke is ook ʼn goeie idee. Daar kan maar baie prentjies in wees. Vir Aardrykskunde, lees Weg tydskrif. Die Afrikaans daarin is pragtig.

Vir ʼn Afrikaanse kind is daar egter nie ʼn beter inleiding tot wetenskaplike denke as Anna Rothman se drie boeke nie. Die boeke se titels is:

  • Klaasneus-hulle
  • Kraai-hulle
  • Kriek-hulle

Mens kry dié boeke nog by tweedehandse boekwinkels te koop. Eintlik verdien dié drie wonderlike boeke al lankal ʼn herdruk. Dis in sulke helder Afrikaans geskryf en Rothman het ʼn besonder fyn waarnemingsvermoë.

perdebySo vertel-vertel verduidelik die skryfster byvoorbeeld vir kinders die konsep van instink. Ondeund steel sy bolletjies modder by ʼn perdeby, wat besig is om nes te bou. Die perdebytjie kan glad vir haarself dink nie, en as haar bolletjie modder verdwyn, kan mens sien hoe verward sy raak. Uiteindelik vlieg sy maar terug en gaan maak ʼn nuwe bolletjie modder bymekaar, want dis al manier waarvan sy van weet.

Wat jy op laerskoolouderdom wil bereik, is om jou kind se kennissisteem so wyd as moontlik te maak. As sy as tiener verbande tussen al hierdie feite wil begin trek, het sy oral haakplekke en invalshoeke tot haar beskikking vir haar meer abstrakte insig, wat tydens adolessensie begin vorm.

Opvoedkundige Charlotte Mason se raad om kinders te leer terugvertel, is goud werd. As jou kinders van skryf hou, laat hulle ‘n paragrafie skryf van wat hulle byvoorbeeld in ʼn Weg artikel gelees het. As hulle nie van skryf hou nie, doen die terugvertellery sommer informeel aan die etenstafel as hulle vir pa vertel van iets interessants wat julle deur die dag raakgeloop het.

Die vaardigheid wat terugvertel hulle leer, is om hulle gedagtes te orden, agter te kom wat is meer en wat minder belangrik en dat hulle hulle geheue oefen.

Derduisende Afrikaanssprekende mense het in Afrikaans skoolgegaan en selfs hul beroepsopleiding 100% in Afrikaans voltooi. As volwassenes behaal hulle dan sonder enige moeite sukses in ʼn Engelssprekende wêreld. Die geheim is om eers die basis in die moedertaal goed vas te lê, dan skakel mens lag-lag na ʼn tweede taal oor.

Afrikaans gee jou kinders bene (en sye) om op te staan

As jy jou kinders in Afrikaans leer, hoe gaan hulle eendag werk kry in ’n land en wêreld wat oorwegend Engels is? ’n Vraag wat baie ouers, ook tuisskoolouers, hulself gereeld afvra.

My ondervinding is dat kinders hier teen vyftien lag-lag kan oorskakel na ’n tweede taal, mits hulle moedertaalvaardigheid lekker sterk ontwikkel is. Ek het ook gevind die moedertaal bied boonop ’n nuttige bykomende poort tot die leermateriaal.

Neem nou maar die vrek moeilike Engelse woorde vir driehoeke: “equilateral” en “isosceles”. Vir my twee kinders het ek hulle kennis van Afrikaans gebruik om hiermee te help. In Afrikaans staan dié twee driehoeke onderskeidelik as ’n gelyksydige en ’n gelykbenige driehoek bekend.

Gelyksydige-driehoekAlle driehoeke het drie sye en as al drie sye ewe lank is, is al drie sy hoeke presies 60 grade, en is hy dus ’n gelyksydige driehoek. Om die Engels te onthou, moet jy jouself net herinner “equi” beteken “gelyk” (soos in die Afrikaanse woord ekwivalent) en “lateral” beteken “sy” (soos in die Afrikaanse uitdrukking: jy moet lateraal of sywaarts dink).

Gelykbenige-driehoekVir die gelyksydige driehoek gebruik ons dié donkiebruggie: ’n mens het net twee bene, dus het ’n gelykbenige driehoek net twéé ewe lang bene (en dus twee ewe groot hoeke). Die woord “isosceles” kom van Grieks af en was vir ons ’n bietjie moeiliker om te onthou. Ons het dus net altyd gesê: ’n gelyksydige driehoek is equilateral en gelykbenige driehoek is … die ander een. (As jy tuisskool, is jy baie prakties oor die soort goed.)

Dit was nogal lekker om uit te vind dat, alhoewl ek in matriek laas ernstig Wiskunde gedoen het, my aanvoeling oor die voordeel van Wiskunde-in-Afrikaans deur navorsing gesteun word. In 2014 berig Netwerk24 dat Afrikaans beter is vir Wiskunde. “Die voorlopige gevolgtrekking is dat die Afrikaanse taalstruktuur moontlik beter vaar in sekere probleemformulerings. Die sinskonstruksies in Afrikaans, so sê van die onderwysers in die studie, is duideliker as in die Engelse weergawe,” seg die berig.

En die makliker verstaanbare Wiskunde woorde van Afrikaans ook, voeg hierdie tuisskoolma by.

 

Klik hier om meer te lees oor die navorsing van Wiskunde in Afrikaans.

Die skets bo is deur Annamaria Haasbroek.

 

 

 

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑