Soek

Tuisskool in Afrikaans

Kategorie

Uitkomsgebaseerd

As dit voel of jou kinders niks leer nie …

Party mense is groter as die lewe self. Leendert van Oostrum was een van hulle. In sy wonderlike stem, soos ʼn Shakespeare akteur sʼn, kan ek hom nou nog pedagogiese ruimte hoor sê. Dié ruimte is ʼn uitdinksel van opfoeterkundiges wat wil hê ʼn mens moet kinders se leerplek stroop van die alledaagse lewe. Kinders leer kwansuis die beste in so ʼn steriele omgewing. Leendert het gedink dis twak. En hy het hard en duidelik gesê dis sommer twak.

As iemand wat al amper twintig jaar tuisskool, het ek Leendert deur die jare baie vrae gevra. Meestal het hy my nie direk geantwoord nie, maar my self na antwoorde laat soek. My laaste vraag aan hom was vroeër die jaar op die tuisonderwysposlys: wat op aarde is konstruktivisme? Hy het my nooit geantwoord nie. Miskien omdat hy siek geword het, maar waarskynliker omdat hy, soos gewoonlik, wou hê ek moes self die antwoord kry.

Ek het toe bietjie gaan googleloer wat konstruktivisme is. Konstruktivisme is ʼn groot woord, maar as ʼn mens mooi na die woord kyk, sien jy konstruksie kruip daar iewers weg. As jy eers die konstruksie deel van die woord kan uitmaak, raak dit makliker.

Konstruktivisme is ʼn skool in die Opvoedkunde wat nie glo ʼn kind is ʼn leë houer wat die onderwyser in die pedagogiese ruimte vol kennis prop nie. Konstruktivisme sê die leerder maak sy eie betekenis van die leerstof, vorm sy eie insig en bou sy eie kennissisteem uit.

Eers toe ek 15-Minuut-Afrikaans aanmekaar begin sit, het ek besef die program volg ʼn konstruktivistiese benadering. Neem die werk van Week 1 byvoorbeeld. Vooraf kry die leerders ʼn bietjie leerinhoud, wat verduidelik dat ʼn naamwoord naam gee aan mense, dinge, diere, plekke en idees. Vir die res van die week word hulle gekonfronteer met Afrikaanse sinne waarin hulle die naamwoorde moet opspoor. Omdat hulle self met die sinnetjies stoei, kom die begrip.

Naamwoorde is net die begin. Week vir week werk ons deur al Afrikaans se woordsoorte, maar ook deur sinskonstruksie en hoe om jou skryfwerk laat sing deur byvoorbeeld die openinge van jou sinne af te wissel en beeldspraak te gebruik. Ons leer woordstamme eien en praat oor woorde wat maklik verwar word.

As die insig eers gekom het, hoop ek dit sal vir die leerders wees asof hulle ʼn X-straalfoto van die sinne sien en die onderliggende geraamte van hulle taal kan begin uitmaak. Intuïtief, maar miskien omdat ek deur die jare agtergekom het ʼn konstruktivistiese benadering wérk, het ek 15-Minuut-Afrikaans op dié model geskoei.

In my laaste e-pos van 2016 is dit dus gepas om ʼn saluut te gee aan ʼn groot gees in ons geledere wat heengegaan het. Dankie vir jou talle nie-antwoorde, Leendert. Dankie dat jy my oor die jare as tuisskoolma geleer het om my eie antwoorde te soek en om my eie betekenisse te vind. En dankie dat jy my gewys het hoe ek deur dié werkswyse my kinders kon leer om dieselfde te doen.

Openingsaanbod verval oor ‘n paar dae

15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod verval om middernag op 31 Desember. Jy gaan darem sewe uur grasie hê as jy te lekker Oujaar gehou het, want die tyd geld vir Amerikaanse Ooskustyd, wat sewe uur later as Suid-Afrika is. Klik op die prentjie hieronder as jy sommer nóú wil gaan inteken. En onthou om jou vriende betyds te laat weet van die program.

50-afslag-met-vervaldatum

Taal en klei – baie in gemeen

Onthou jy nog dié dae?

“Wat is jou naam?” vra iemand vir jou kind.

“Naam,” antwoord hy.

“Nee, wat is jou naam?”

“Naam,” sê hy weer.

Dis die fase wanneer kinders net die laaste woord wat iemand vir hulle sê agterna papegaai. Al is hulle gewoonlik nog nie eens twee jaar oud nie, kan hulle aan die stemtoon hoor ʼn vraag word gevra. En sosiale wesentjies wat hulle is, weet hulle hulle moet antwoord, maar hulle het nog nie woorde om dit te doen nie.

ʼn Paar maande later begin hulle regtig praat en regtig antwoord. Teen vier jaar babbel hulle nie net vlot nie, hulle maak ook hulle eie woorde op. My twee het byvoorbeeld met ligkulling vir lugspieëling, omdat die lig mens kul, vorendag gekom. Hulle praat ook vandag nog van ʼn tiklig in plaas van ʼn flikkerlig, want die liggie maak mos tik-tik. Ek is seker jou kinders het ook hulle eie woorde opgemaak.

As jy ʼn tuisskoolma is, is die kans goed dat jy op een of ander stadium vir jou kinders tuisgemaakte klei gemaak het. Jy weet mos daardie soort klei wat mens met meel en sout en water en voedselkleursel maak. Die resep duik een of ander tyd op elke tuisskoolma se facebook bladsy op.

Jy moet aan jou kinders se moedertaalonderrig as klei-speel dink. Winkelklei is duur en dis hoekom ons emmers en emmers vol tuisgemaakte klei vir ons kinders maak. Dat hulle na hartelus daarmee kan speel. Gesprekke en taalspeletjies met jou kind is soos tuisgemaakte klei, waarvan jou kinders nooit genoeg kan kry nie.

As jy nou terugdink, dink jy nie jou kinders het baie, baie makliker geleer om te praat as wat hulle geleer het om te lees en skryf nie? Goed, jy moes reghelp.

“Nee, Sannie, nie sliegtuig nie, maar vvvliegtuig,” moes jy oor en oor sê.

Maar dit was kinderspeletjies in vergelyking met die gesukkel om hulle te leer lees en skryf, nie waar nie? Dis omdat taal in die eerste plek bedoel is om te gepraat te word, en nie om geskryf te word nie.

Tensy daar groot fout is, soos byvoorbeeld as iemand doof is, kan omtrent alle mense teen die tyd dat hulle vier jaar oud is, praat. Lees en skryf? Nie so vanselfsprekend nie. Die Verenigde Nasies reken dat 17% van die wêreld se bevolking vandag steeds nie glad kan lees en skryf nie.

Geskrewe taal is wonderlik, maar gesproke taal kom eerste

Kyk, vir my is die geskrewe woord wonderlik. Lees is vir my tweede natuur, want ek is ʼn visuele leerder, wat boeke verslind het vandat ek baie klein was. Ek dink die alfabet is fantasties. Kyk byvoorbeeld net ʼn bietjie na hierdie drie lettertjies.

b d p

 Al drie is basies ʼn bal en ʼn stok, maar waar jy die stok ten opsigte van die bal plaas, maak ʼn reuse verskil. As jy besef hoe eenders daardie drie merkies inderwaarheid lyk, is dit ongelooflik dat ons oë en breine hulle so blitsig kan onderskei dat ons so vinnig lees soos ons lees. Om te dink dat ons met net nog 22 ander simbooltjies, wat baie soos dié drie lyk, heelalle oopskryf, ideologieë bedink en harte leer oorplant.

Toe ek die eerste weergawe van 15-Minuut-Afrikaans geskryf het, het ek in my entoesiasme vir die geskrewe woord, alweer die fout gemaak om die skryfwerk te veel te maak. Een van die ma’s (dankie, Salomien!) wat die program vir my getoets het, het gesê haar seuntjie van tien is mal oor die skattejagdeel van die kursus, maar dat hy die skryfwerk langtand doen.

Asof ek nie met my twee, wat aanvanklik gesukkel het om te leer lees en skryf, my les geleer het nie. Ek het dadelik teruggegaan en die skryfwerk in 15-Minuut-Afrikaans minder gemaak.

Ek wil hê die klem moet in my kursus val op die werk wat jy mondeling saam met jou kinders doen. Die maak van nuwe woorde met ander woordstamme, die uitsnuffel van woordsoorte, die raaksien van woorde wat presies dieselfde gespel en gesê word, maar wat heeltemal verskillende goed beteken, is die belangrikste. Nie die skryfwerk nie.

Moenie te gou formele werk begin doen nie

Moenie jou kinders te gou in die blik van formele onderrig druk nie. Ek gaan dit weer sê. Moenie jou kinders te gou formeel begin skool nie. Onthou dat taal in die eerste plek bedoel is om gepráát te word. Gesels met hulle en laat hulle vir jou dinge terugvertel wat met hulle gebeur het of wat vir hulle interessant is. Lees vir hulle. Ek is vandag bitter spyt ek het nie meer gedigte vir my twee gelees nie. Niks vang ʼn taal se ritme en sê-krag so goed vas soos gedigte nie.

Jy tuisskool. Jy het nie nodig om jou kinders bladsye en bladsye vol te laat skryf nie. Geniet die klei-speel. Ook die speel met die klei van julle moedertaal. Daarmee lê jy die basis vir uitstekende taal-, lees- en skryfvaardigheid, wat  later kom.

Onthou, 15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod veral op 31 Desember. As jy nog nie ingeskryf het nie, moenie die kans by jou  laat verbygaan nie.

50-afslag

Laat sak jou facebook fasade

Dis menslik om voor te gee dit gaan beter met jou as wat dit regtig gaan. En hier is tuisskoolma’s geen uitsondering nie. Dus kan dit baie keer vir jou lyk of al die ander ma’s en hulle kinders so goed vaar, en dat jy die enigste een is wat vasbrand. Jy begin wonder of dit dalk net jou kinders wat nog nie kan lees nie, sukkel met somme en wie gesindheid teenoor leer party dae veel te wense laat. Moenie die fout maak om jou binnekamer-lewe op te weeg teen iemand anders se sitkamer-lewe nie.

Mens wil graag jou bloedjies beskerm en so goed as moontlik laat lyk in ander se oë. Maar soms is dit nodig om jou fotoperfekte facebook fasade weg te skuif en mense te laat agterkom jy of jou kinders trek swaar.

’n Paar keer al het tuisskoolvriendinne my in hulle vertroue geneem en gebieg dat hulle twyfel oor hulle sukses. Hulle het vertel van akademiese probleme, karakterkwessies of emosionele tameletjies waarmee hulle kinders stoei. Elke keer wat dit gebeur het, het ek sug van verligting geslaak, en op my beurt my eie twyfel oor tuisskool gedeel. Na sulke gesprekke kon ek, en hopelik my vriendin, met meer moed na huis en haard teruggekeer.

Ek dink nie dis ’n goeie idee om jou  geheime met elke Jan Rap en sy maat te deel nie, maar ’n verstandige vertroueling of twee, wat jou posisie begryp, is ’n goeie idee. Sluit aan by tuisskoolgroepe, maak vriende, deel mekaar se lief en leed. Jy gaan jou tuisskoolvriendinne baie nodig hê, nie net vir inligting oor die beste handboeke nie, maar ook vir aanmoediging en om die perspektief te behou dat jy jou tuisskoolstrategie weer en weer sal moet aanpas.

Vliegtuig

’n Vliegtuig is glo meer as 90% van die tyd van koers af.

’n Vliegtuig, so hoor ek, is meer as 90% van die tyd van koers af. Dwarswinde waai, lugstrome suig en vlieëniers verloor hul konsentrasie. Tog gebeur dit selde dat ’n vliegtuig nie sy bestemming bereik nie. Dis omdat koersaanpassings voortdurend gemaak word. Dink aan jou tuisskoolpad as ’n vliegtuig wat nog in die lug is. Plek-plek gaan jy die spoor byster raak, maar met regstellings sal jy weer jou pad vind.

Gesprekke met ander ma’s wat met dieselfde dinge as jy sukkel, help jou insien watter regstellings om te maak. Partykeer is dit groot veranderings, soos om ’n hele kurrikulum te laat vaar; ander kere is dit kleiner verstellings, soos om Wiskunde vroeg in die oggend te doen. Soms is dit net dat jy besluit almal vat nou ’n hele week af, want julle is uitgebrand.

Die wonder van tuisskool is dat jy jou gesin se onderwys presies vir jóú gesin se omstandighede en vereistes kan verstel. Die gawe van tuisskool is dat jy vriendinne kan hê wat jou kan help beter keuses maak. Die seën van tuisskool is dat jy jou mislukkings en sukses eerliker kan deel. Komaan, laat sak jou Mevrou-Perfek-Masker —  die ware jy is interessanter en meer inspirerend.

Hoe op aarde kies jy ‘n leerplan?

Toby Spribille, wat getuisskool is, snork minagtend dat hy op negentien brandarm uit Amerika Duitsland toe moes gaan om ordentlike onderwys te kon kry. En tog het hy, eens minderbevoorregte seun uit ’n woonwapark in Montana, pas bioloë se idee dat korsmos die simbiose van ’n fungus en ’n alg is op sy kop gekeer. Toby het ontdek dat mos eintlik twéé fungusse en ’n alg is. Sy deurbraak hou dalk die moontlikheid in van nuttige toepassings in geneeskunde. Hy erken dat hy as kind ure in woude rondgedwaal het om mos te bestudeer en dat hy baie gewonder het presies wat dit is.

Op die oomblik verdubbel die mensdom se kennis elke dertien maande, maar toekomskundiges reken dat kennis uiteindelik elke twaalf uur kan verdubbel. Met so ’n geweldige kennisontploffing is dit onmoontlik dat jou kind alles wat in die wêreld te wete is, kan leer. Hoe op aarde kies jy as tuisskoolouer ’n leerplan? Vir my was twee vakke altyd ononderhandelbaar: Afrikaans (of kennis van die moedertaal) en Wiskunde.

’n Goeie taalvermoë gee vir jou kinders woordeskat waarmee hulle vakfeite kan bemeester. Dit bied aan hulle ook die vaardigheid om dinge te kan verstaan en laastens is dit die instrument waarmee hulle hul idees kan uitdruk. Taal maak kommunikasie moontlik. Taal maak dink moontlik.

Ek was nooit lief om my kinders kleintyd op te saal met taalreëls nie. Hulle het nooit werkkaarte ingevul waar hulle werkwoorde moes onderstreep of sinne van bedrywend na lydend moes oorskryf nie. Altwee my kinders het laat self leer lees en daarom het ek ure en ure vir hulle voorgelees uit die beste boeke van die beste skrywers wat Afrikaans bied. ’n Volgende keer skryf ek dalk oor ons gunstelingboeke.

Wiskunde is, soos my Wysbegeerte dosent op universiteit altyd gesê het, suiwer WETEN-skap. Sonder yskoue logika, wil Wiskunde nie. Ek het gevind die dissipline van sistematies dink, afleidings maak en stellings bewys die ander noodsaaklike pyl in die koker van die suksesvolles in die 21ste eeu gaan wees.

Die res is jou, of verkieslik jou kind, se keuse. Deesdae meet ons bestaande kennis in peta-grepe. Een peta-greep is gelyk aan een miljoen giga-grepe of twintig miljoen vierlaai -kabinette vol teksdokumente. Kabinet

Niemand kan meer alles weet wat daar in die wonderlike wêreld te wete is nie. Laat jou kind kies om te leer oor die dinge waarin hy intens belangstel. Laat hom vir weke lees oor die vliegtuie van die twintigste eeu as hy wil. Of laat haar video na video oor Afrika se diere kyk. Mense is van nature nuuskierig. Ons het die opdrag gekry om te heers oor die aarde en ons kan onsself nie help nie, ons wil sistematiseer, ontdek, beskryf, eksperimenteer. Laat jou kinders hulle belangstellings met oorgawe volg.

Toby Spirille sal miskien eendag besef hoe sy ronddwaal in die woude van Montana hom gehelp het. Dit en die feit dat hy Duits vlot kon praat. Soos in baie ander uitvinders se lewens, was dit gelukkige toeval, die sameloop van omstandighede, of as jy weet om daarvoor te soek, die Voorsienigheid van God wat sy ontdekking moontlik gemaak het.

Leer jou kinders taal en Wiskunde. Vind verder uit watter kennisvelde hulle opgewonde maak en plaas daardie vakke binne hulle bereik. Dis al wat jy hoef te doen.

 

Lees meer:

Oor Toby Spirille

Oor die kennisontploffing

Oor peta-grepe

 

As ek van voor af in die tuisskoolstoel moes sit …

As ek van voor af moes tuisskool, sou ek hierdie drie dinge anders gedoen het.

 vet-een

Ek sou my minder bekommer het

Eind goed, alles goed — baie waar van tuisskool. Toe Johannes al amper veertien was en nog steeds nie kon lees nie, het ek my tog so daaroor bekommer. Toe Annamaria so skaam was dat sy met niemand wou praat het, het ek nagte daaroor wakker gelê. Toe altwee van hulle — ’n skryfster se kinders, nogal — hopeloos spel, het ek my oortuig ek was die vrotste tuisskoolma ooit.

Al die bekommer, wakkerlê en skaamkry was pure verniet. Met tuisskool moet mens die proses vertrou. Die eindresultaat is al wat saakmaak, en raai wat, is die kind nie tevrede met die eindresultaat nie, kan hy nog leer of verder aan sy vaardigheid slyp.

Vandag lees Johannes blitsvinnig én met begrip. Annamaria neem in Engels deel aan die gesprekke in haar aanlynklasse. Omdat hulle nie op Whatsapp of Facebook soos idiote voor hulle vriende wil lyk nie, het hulle wel altwee gou genoeg gesorg dat hulle beter leer spel.

 vet-twee

 Ek sou vir hulle meer gedigte gelees het

Behalwe dat gedigte kinders leer om die mooie in die lewe te waardeer en ritme en soepelheid in taal te ontdek, leer poësie kinders ook abstrak dink. Gedigte leer hulle ook om ongewone verbande tussen dinge raak te sien. Soos iemand eenkeer gesê het, metafore is die lewensbloed van kuns, miskien is metafore kuns self.

Ons het te min gedigte gelees. Hopeloos te min. Vandag is ek spyt. Lees vir jou kinders tonne en tonne gedigte. Klik hier en ontdek ’n heerlike aanlynbron van Afrikaanse gedigte.

Vet-drie

Ek sou hulle meer laat terugvertel het

Sover ek weet het die opvoedkundige Charlotte Mason die konsep van terugvertel gevestig. Al wat dit beteken, is dat die kind vir iemand vertel wat hy geleer of interessant gevind het.

Om kinders nie selfbewus te maak nie of te laat voel jy is besig om hulle toets nie, hou die terugvertellery informeel, lig, speels. Aan die etenstafel kan jy terloops vra dat hy vir Pa vertel wat hy vandag oor die element aluminium geleer het. Of wat sy alles uitgevind het oor die geel en swart insek wat sy in die tuin opgetel het.

Terugvertel is so ’n kragtige tuisskoolinstrument. Dadelik kom die volgende drie voordele by my op: Dit oefen kinders se geheue, leer hulle sistematiseer en leer hulle onderskei tussen die belangrike en die minder belangrike. Ek raai alle nuwe tuisskoolma’s aan om dié gereedskapstuk gereeld en getrou te gebruik.

 

My kinders was nooit op skool nie

Een van die groot vreugdes in die lewe is om na jou volwasse kinders te kyk en te dink: hulle is goed grootgemaak. Ek dink mens kan dit van my twee sê. Nie aldag nie. Maar darem meestal. Wat ’n wonderwerk is, aangesien hulle nie ’n enkele dag op ’n skoolbank deurgebring het nie.

Dit vra durf om teen die grein van jou kultuur in jou kinders nie skool toe te stuur nie. Dit eis moed en geloof om te bly tuisskool as twyfelsaaiers en asemintrekkers op jou afstorm. Het jy self al ’n entjie op die tuisskoolpad geloop, het jy beslis al dié opmerkings teëgekom:

“Maar wat van hulle sosialisering?”

“Hoe weet jy jou standaard is hoog genoeg?”

“Wat bedoel jy hulle skryf nie eksamens nie?”

Al het ek dit nooit neergeskryf het, het ek altyd geweet wat ek met my kinders se tuisonderrig wou bereik. Dit was tegelyk heel haalbaar en onmoontlik idealisties. Ek wou hê hulle moes kon lees, skryf en reken. Hulle moes leer om krities te dink om inligting se waarde en betroubaarheid te beoordeel. Bowenal moes hulle as gelowiges ’n roepingbewustheid ontwikkel en tyd vat om hulle unieke talente en aanlegte te ontwikkel.

Speel-in-die-waterNou, na amper twintig jaar van tuisskool ma-wees, sien ek die genade daarvan dat ’n kind sonder selfbewustheid foute kan maak en weer probeer sonder ’n toekykende portuurgroep. Leer is nes die lewe ’n morsige spulletjie. Met ’n bietjie hier en ’n knippie daar bou elke mens geleidelik ’n kennissisteem op. Dis net met sukkel en val en opstaan en weer probeer dat jy vaardigheid verwerf.

Wat sosiale kontak betref, was ons gesin van mening dat minder, maar dieper vriendskappe beter is. Ek was gelukkig om in ’n gebied te bly waar ander tuisskoolma’s baie sosiale geleenthede gereël het en ek het entoesiasties ingeskakel en help organiseer aan uitstappies en kuiers. Buitemuurse aktiwiteite soos sportklubs, perdry, kunsklasse en natuurlik die kerk het ook gesorg vir vriendskappe. Ek raai alle nuwe tuisskoolma’s aan om dadelik ’n ondersteuningsnetwerk met ander tuisskolers te begin vorm.

My twee kinders verskil baie van mekaar en hulle is toegelaat om in verskillende rigtings te ontwikkel. Johannes is vreeslik georganiseerd en vandat hy klein is, werk hy al op ’n rooster. Hy hou van filosofie, geskiedenis, ekonomie en idees. Hy noem homself ’n groot-prentjie-mens wat graag na patrone kyk en verbande tussen dinge raaksien. Hy het eers op veertien leer lees, maar hy het onlangs hier in Amerika in Engels op sy eie vir ’n universiteitseksamen voorberei en goed deurgekom. Sy SAT punt in Critical Reading was goed genoeg dat hy ’n top Amerikaanse universiteit sou kon inskryf. (Ons is nog nie seker of die kool die sous werd is nie, universiteite in Amerika is verskriklik duur. ’n Volgende keer meer oor ons kollegepad hier in die vreemde.)

Annamaria is die kunstige een, wat daarvan droom om eendag animasieflieks te maak. Sy neem aanlynkursusse in animasietegniek, het vroeër vanjaar voor meer as 300 mense aan ’n musiekkonsert deelgeneem en bestuur noukeurig haar kunsprofiel op internet waar sy van haar werke publiseer. Sy leer haarself gereeld nuwe sagteware, wat sy nodig kry vir haar animasiewerk. Dis haar boompie en gieter wat ek vir bo-aan hierdie blogplasing gebruik.

Sal ek weer tuisonderwys kies? ‘n Duisend keer JA!

Featured post

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑