Soek

Tuisskool in Afrikaans

Kategorie

Uncategorized

As dit voel of jou kinders niks leer nie …

Party mense is groter as die lewe self. Leendert van Oostrum was een van hulle. In sy wonderlike stem, soos ʼn Shakespeare akteur sʼn, kan ek hom nou nog pedagogiese ruimte hoor sê. Dié ruimte is ʼn uitdinksel van opfoeterkundiges wat wil hê ʼn mens moet kinders se leerplek stroop van die alledaagse lewe. Kinders leer kwansuis die beste in so ʼn steriele omgewing. Leendert het gedink dis twak. En hy het hard en duidelik gesê dis sommer twak.

As iemand wat al amper twintig jaar tuisskool, het ek Leendert deur die jare baie vrae gevra. Meestal het hy my nie direk geantwoord nie, maar my self na antwoorde laat soek. My laaste vraag aan hom was vroeër die jaar op die tuisonderwysposlys: wat op aarde is konstruktivisme? Hy het my nooit geantwoord nie. Miskien omdat hy siek geword het, maar waarskynliker omdat hy, soos gewoonlik, wou hê ek moes self die antwoord kry.

Ek het toe bietjie gaan googleloer wat konstruktivisme is. Konstruktivisme is ʼn groot woord, maar as ʼn mens mooi na die woord kyk, sien jy konstruksie kruip daar iewers weg. As jy eers die konstruksie deel van die woord kan uitmaak, raak dit makliker.

Konstruktivisme is ʼn skool in die Opvoedkunde wat nie glo ʼn kind is ʼn leë houer wat die onderwyser in die pedagogiese ruimte vol kennis prop nie. Konstruktivisme sê die leerder maak sy eie betekenis van die leerstof, vorm sy eie insig en bou sy eie kennissisteem uit.

Eers toe ek 15-Minuut-Afrikaans aanmekaar begin sit, het ek besef die program volg ʼn konstruktivistiese benadering. Neem die werk van Week 1 byvoorbeeld. Vooraf kry die leerders ʼn bietjie leerinhoud, wat verduidelik dat ʼn naamwoord naam gee aan mense, dinge, diere, plekke en idees. Vir die res van die week word hulle gekonfronteer met Afrikaanse sinne waarin hulle die naamwoorde moet opspoor. Omdat hulle self met die sinnetjies stoei, kom die begrip.

Naamwoorde is net die begin. Week vir week werk ons deur al Afrikaans se woordsoorte, maar ook deur sinskonstruksie en hoe om jou skryfwerk laat sing deur byvoorbeeld die openinge van jou sinne af te wissel en beeldspraak te gebruik. Ons leer woordstamme eien en praat oor woorde wat maklik verwar word.

As die insig eers gekom het, hoop ek dit sal vir die leerders wees asof hulle ʼn X-straalfoto van die sinne sien en die onderliggende geraamte van hulle taal kan begin uitmaak. Intuïtief, maar miskien omdat ek deur die jare agtergekom het ʼn konstruktivistiese benadering wérk, het ek 15-Minuut-Afrikaans op dié model geskoei.

In my laaste e-pos van 2016 is dit dus gepas om ʼn saluut te gee aan ʼn groot gees in ons geledere wat heengegaan het. Dankie vir jou talle nie-antwoorde, Leendert. Dankie dat jy my oor die jare as tuisskoolma geleer het om my eie antwoorde te soek en om my eie betekenisse te vind. En dankie dat jy my gewys het hoe ek deur dié werkswyse my kinders kon leer om dieselfde te doen.

Openingsaanbod verval oor ‘n paar dae

15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod verval om middernag op 31 Desember. Jy gaan darem sewe uur grasie hê as jy te lekker Oujaar gehou het, want die tyd geld vir Amerikaanse Ooskustyd, wat sewe uur later as Suid-Afrika is. Klik op die prentjie hieronder as jy sommer nóú wil gaan inteken. En onthou om jou vriende betyds te laat weet van die program.

50-afslag-met-vervaldatum

Hoekom ons skryf soos ons praat

Ons skryf soos ons praat. Vandat mense Afrikaans begin neerskryf het, gebruik hulle dié slagspreuk. In dié opsig is Afrikaans soos Spaans, en glad nie soos Frans nie. In Spaans, ʼn fonetiese taal net soos Afrikaans, word elke letter uitgespreek.

In Frans is daar hope letters wat geskryf word, maar nie gesê word nie. Byvoorbeeld dié tongknoper grenouille, wat padda beteken, en wat green-u-eey uitgespreek word.

Hoekom het Frans daardie onuitgespreekte klanke in haar skryftaal behou? Die Franse Taal-Akademie se amptelike antwoord? Hulle wil hê Frans-praters moet kan sien waar hulle woorde vandaan kom. In sy spelling word elke woord se geskiedenis vasgevang.

ʼn Mier, wat vir altyd in ʼn stuk amber vasgevang is, is die prentjie wat by my opgekom het toe ek hiervan lees. Ek veronderstel die Académie française se redes sluit so bietjie aan by my idee dat ons stamwoorde in 15-Minuut-Afrikaans leer raaksien.

So van Afrikaans gepraat. Boeta, neem ons die reël dat ons skryf soos ons praat ernstig op. Ons skryf letterlik presies nes ons praat. Moeilikheid is, ons praat verkeerd. En die uwe is hierby ingesluit.

Ek was geskok, geskok, seg ek jou, om te hoor hoe ek my klanke ontrond toe ek die promosievideo vir 15-Minuut-Afrikaans moes maak. Met die redigeer van die video moes ek deur die pynlike proses gaan om oor en oor na my daardie ontronding te luister.

Nou weet ek hoekom ek in my lewe nooit ʼn strandhuis sal besit nie. Dis omdat ek nie strôndhuis met die nodige deftigheid uitspreek nie. Dis een van my nuwejaarsvoornemens om netjieser Afrikaans te praat. Ek wil nie meer hys sê nie, maar h-ui-s. Nou nie so óór rond soos strôndhuis nie, net met ʼn mooi ronde klanke in die middel van woord.

In 15-Minuut-Afrikaans gaan jy weer en weer woorde teëkom, wat ons verkeerd spel omdat ons hulle verkeerd uitspreek. Daarom gaan ons oefen om hulle reg te sê.

Beter uitspraak is my derde wenk om beter te spel. Ek het jou mos al vertel dat as jy stamwoorde kan raaksien en bietjie met ʼn woord rondspeel, jy baie keer kan agterkom hoe om hom reg te spel.

Die een ding wat ek nie wil hê nie is dat ons kinders lyste en lyste spelwoorde uit hulle koppe leer. Ons wil liewer vir hulle gereedskapstukke gee waarmee hulle kan uitredeneer wat die regte spelling is.

As jy nog sulke nuttige gereedskappies het om Afrikaanse spelling makliker te maak, laat hoor gerus van jou.

Wil jy gaan inloer en sien waaroor 15-Minuut-Afrikaans alles gaan? Klik dan hier:

15-Minuut-Afrikaans: 50% af, maar net tot 31 Desember 2016

 

 

 

 

Afrikaans is ‘n Lego-blokkie-taal

Die uwe spelle nie te sleg nie. Daar is egter ʼn paar spelwoorde in Afrikaans wat my pootjie en wat ek maar keer op keer moet naslaan.

Meestal wanneer om twee woorde los en wanneer om hulle vas te skryf.

Dood maklik. Een of twee woorde? En ook al? Wat van weer eens?

Enige woord wat “terug” in het, laat my ook kopkrap. Is dit terug vertel of terugvertel?

Terugkeer of terug keer? Teruggaan of terug gaan?

Dan twyfel ek ook baie keer wanneer om d en wanneer om t te gebruik. Sê mens ingelegte vrugte of praat jy van ingelegde vrugte?

Sal dit nie lekker wees nie as ons in 15-Minuut-Afrikaans vorendag kan kom met maklike maniere om dié twee spelling-kopsere op te los nie? Iets vmaklik soos daardie rympie wat ons vir ons kinders leer om hulle te help om “school” te spel: Slangetjie, hoepeltjie, hê, wieletjie, wieletjie, lê.

Dit sal kom, dit sal kom. Intussen deel ek solank twee ander gereedskapstukke om beter te spel uit.

1. Kyk na die stamwoorde

Afrikaans is ʼn Lego-blokkie-taal wat met ʼn woord hier en ʼn brokstuk van ʼn ander woord daar nuwe woorde opmaak. Nes sy Germaanse sussietale. Daarom kan Afrikaanse met ʼn wonderlike pleknaam soos Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein of ʼn woord soos waatlemoenkonfytbottelproppe vorendag kom. Om beter te spel, moet jy net weet uit watter Lego-blokkies die woord bestaan.

Om mee te begin, het jy natuurlik ʼn klein, basiese woordeskat nodig van woorde wat jy wel reg kan spel. Jy moet byvoorbeeld weet dat lyding met ʼn lang y swaarkry beteken en dat die ander leiding in ʼn rigting laat gaan beteken. Dis hoekom dit ʼn baie slegte idee is as ʼn leier lyding gee. Glo my, ʼn leier wat lyding gee, gaan nie lank hou nie.

Met die twee Lego-blokkies ly en lei byderhand, kan jy dan woorde soos lydsaamheid en begeleiding reg spel. As jy bietjie daaroor nadink, sien jy in dat lydsaamheid met geduld tydens swaarkry te make het. Die begeleiding wat ʼn orreliste vir die gemeente gee, is wanneer sy hulle stemme in ʼn rigting laat gaan.

Wat jy eintlik doen, is om seker te maak die Lego-blokkie in jou hand druk jy op die regte plek en manier vas aan die volgende blokkie waarmee jy probeer bou.

Daarom doen ons in 15-Minuut-Afrikaans baie speletjies om woordstamme op te spoor en om nuwe woorde met daardie woordstamme te vorm. Ons probeer vir die kinders so veel as moontlik Lego-blokkies gee waarmee hulle hulle Afrikaans goed kan bou.

2. Speel met die woord

In my tweede wenk vir beter spelling moedig ek die kinders aan om bietjie rond te speel met ʼn woord waaroor hulle twyfel. Kom ons kyk as ‘n voorbeeld na hard teenoor hart.

Ons sê die stoel is hard maar die harde stoel. Deur bloot die woord op ʼn ander manier te gebruik, kan jy nou agterkom hierdie hard kry ʼn d aan die einde.

Dieselfde geld vir hart. As jy twyfel of daar ʼn d of ʼn t aan die einde van die woord kom, probeer die woord as ʼn meervoud te gebruik. Soos in dié sin: Dr. Chris Barnard het in sy lewe talle harte oorgeplant.

Afrikaans is gelukkig nie ʼn besonder moeilike taal om te leer praat of spel nie. As ons Frans gepraat het, moes ons vir ons kinders leer om dié woord met sy wavrag klinkers reg uit te spreek én reg te spel: bouilloire. Dit beteken ketel en is glo dié moeilikste woord vir nie-moedertaalsprekers van Frans om reg uit te spreek.

En as ons Wallies gepraat het, moes ons ons kinders leer om ʼn uil ʼn good-ee-hoo te noem, maar dit gwdihŵ te skryf. Vyf medeklinkers en net één verdwaalde klinkertjie? Hoe op aarde kom ʼn mens by good-ee-hoo uit?

Daar is altyd iets voor dankbaar te wees, of wat praat ek alles?

Nuuskierig oor 15-Minuut-Afrikaans? Gaan loer gerus in deur op die skakel hieronder te klik.

Taal en klei – baie in gemeen

Onthou jy nog dié dae?

“Wat is jou naam?” vra iemand vir jou kind.

“Naam,” antwoord hy.

“Nee, wat is jou naam?”

“Naam,” sê hy weer.

Dis die fase wanneer kinders net die laaste woord wat iemand vir hulle sê agterna papegaai. Al is hulle gewoonlik nog nie eens twee jaar oud nie, kan hulle aan die stemtoon hoor ʼn vraag word gevra. En sosiale wesentjies wat hulle is, weet hulle hulle moet antwoord, maar hulle het nog nie woorde om dit te doen nie.

ʼn Paar maande later begin hulle regtig praat en regtig antwoord. Teen vier jaar babbel hulle nie net vlot nie, hulle maak ook hulle eie woorde op. My twee het byvoorbeeld met ligkulling vir lugspieëling, omdat die lig mens kul, vorendag gekom. Hulle praat ook vandag nog van ʼn tiklig in plaas van ʼn flikkerlig, want die liggie maak mos tik-tik. Ek is seker jou kinders het ook hulle eie woorde opgemaak.

As jy ʼn tuisskoolma is, is die kans goed dat jy op een of ander stadium vir jou kinders tuisgemaakte klei gemaak het. Jy weet mos daardie soort klei wat mens met meel en sout en water en voedselkleursel maak. Die resep duik een of ander tyd op elke tuisskoolma se facebook bladsy op.

Jy moet aan jou kinders se moedertaalonderrig as klei-speel dink. Winkelklei is duur en dis hoekom ons emmers en emmers vol tuisgemaakte klei vir ons kinders maak. Dat hulle na hartelus daarmee kan speel. Gesprekke en taalspeletjies met jou kind is soos tuisgemaakte klei, waarvan jou kinders nooit genoeg kan kry nie.

As jy nou terugdink, dink jy nie jou kinders het baie, baie makliker geleer om te praat as wat hulle geleer het om te lees en skryf nie? Goed, jy moes reghelp.

“Nee, Sannie, nie sliegtuig nie, maar vvvliegtuig,” moes jy oor en oor sê.

Maar dit was kinderspeletjies in vergelyking met die gesukkel om hulle te leer lees en skryf, nie waar nie? Dis omdat taal in die eerste plek bedoel is om te gepraat te word, en nie om geskryf te word nie.

Tensy daar groot fout is, soos byvoorbeeld as iemand doof is, kan omtrent alle mense teen die tyd dat hulle vier jaar oud is, praat. Lees en skryf? Nie so vanselfsprekend nie. Die Verenigde Nasies reken dat 17% van die wêreld se bevolking vandag steeds nie glad kan lees en skryf nie.

Geskrewe taal is wonderlik, maar gesproke taal kom eerste

Kyk, vir my is die geskrewe woord wonderlik. Lees is vir my tweede natuur, want ek is ʼn visuele leerder, wat boeke verslind het vandat ek baie klein was. Ek dink die alfabet is fantasties. Kyk byvoorbeeld net ʼn bietjie na hierdie drie lettertjies.

b d p

 Al drie is basies ʼn bal en ʼn stok, maar waar jy die stok ten opsigte van die bal plaas, maak ʼn reuse verskil. As jy besef hoe eenders daardie drie merkies inderwaarheid lyk, is dit ongelooflik dat ons oë en breine hulle so blitsig kan onderskei dat ons so vinnig lees soos ons lees. Om te dink dat ons met net nog 22 ander simbooltjies, wat baie soos dié drie lyk, heelalle oopskryf, ideologieë bedink en harte leer oorplant.

Toe ek die eerste weergawe van 15-Minuut-Afrikaans geskryf het, het ek in my entoesiasme vir die geskrewe woord, alweer die fout gemaak om die skryfwerk te veel te maak. Een van die ma’s (dankie, Salomien!) wat die program vir my getoets het, het gesê haar seuntjie van tien is mal oor die skattejagdeel van die kursus, maar dat hy die skryfwerk langtand doen.

Asof ek nie met my twee, wat aanvanklik gesukkel het om te leer lees en skryf, my les geleer het nie. Ek het dadelik teruggegaan en die skryfwerk in 15-Minuut-Afrikaans minder gemaak.

Ek wil hê die klem moet in my kursus val op die werk wat jy mondeling saam met jou kinders doen. Die maak van nuwe woorde met ander woordstamme, die uitsnuffel van woordsoorte, die raaksien van woorde wat presies dieselfde gespel en gesê word, maar wat heeltemal verskillende goed beteken, is die belangrikste. Nie die skryfwerk nie.

Moenie te gou formele werk begin doen nie

Moenie jou kinders te gou in die blik van formele onderrig druk nie. Ek gaan dit weer sê. Moenie jou kinders te gou formeel begin skool nie. Onthou dat taal in die eerste plek bedoel is om gepráát te word. Gesels met hulle en laat hulle vir jou dinge terugvertel wat met hulle gebeur het of wat vir hulle interessant is. Lees vir hulle. Ek is vandag bitter spyt ek het nie meer gedigte vir my twee gelees nie. Niks vang ʼn taal se ritme en sê-krag so goed vas soos gedigte nie.

Jy tuisskool. Jy het nie nodig om jou kinders bladsye en bladsye vol te laat skryf nie. Geniet die klei-speel. Ook die speel met die klei van julle moedertaal. Daarmee lê jy die basis vir uitstekende taal-, lees- en skryfvaardigheid, wat  later kom.

Onthou, 15-Minuut-Afrikaans se spesiale 50% openingsaanbod veral op 31 Desember. As jy nog nie ingeskryf het nie, moenie die kans by jou  laat verbygaan nie.

50-afslag

Afrikaans, asseblief! Vir tuisskool ook

ʼn Tuisskoolma vra of dit sin maak om jou kind in Afrikaans te tuisskool as sy eendag buitendien in Engels universiteit toe moet gaan. Dis al oor en oor bewys moedertaalonderwys is altyd beter. Afrikaanse tuisskoolouers moet soveel as moontlik van hulle tuisonderrig in Afrikaans doen.

As moedertaalspreker is jou Afrikaanse woordeskat en begrip soveel groter as in jou tweede taal en dieselfde geld vir jou kind.

Wat is my beste raad vir ʼn tuisskoolouer met kinders in die laerskool? Moenie met ʼn formele leerplan begin voor die kind nie omtrent veertien jaar oud is nie. Hy sal jou self laat agterkom dat hy nou sy kennis wil begin sistematiseer en dis wanneer jy met vakonderrig begin.

book-read-reading-blanket-79697

Moet jou kinders dan soos werfhoendertjies by die huis rondhol? Nee. Gee vir hulle take en verantwoordelikhede. Laat hulle eksperimente doen en dinge ondersoek, speel speletjies, doen informele Wiskunde in die kombuis en sorg dat hulle baie tyd buite deurbring.

Laat hulle lees of lees vir hulle voor. Stories is die nodigste, maar algemene wetenskapboeke is ook ʼn goeie idee. Daar kan maar baie prentjies in wees. Vir Aardrykskunde, lees Weg tydskrif. Die Afrikaans daarin is pragtig.

Vir ʼn Afrikaanse kind is daar egter nie ʼn beter inleiding tot wetenskaplike denke as Anna Rothman se drie boeke nie. Die boeke se titels is:

  • Klaasneus-hulle
  • Kraai-hulle
  • Kriek-hulle

Mens kry dié boeke nog by tweedehandse boekwinkels te koop. Eintlik verdien dié drie wonderlike boeke al lankal ʼn herdruk. Dis in sulke helder Afrikaans geskryf en Rothman het ʼn besonder fyn waarnemingsvermoë.

perdebySo vertel-vertel verduidelik die skryfster byvoorbeeld vir kinders die konsep van instink. Ondeund steel sy bolletjies modder by ʼn perdeby, wat besig is om nes te bou. Die perdebytjie kan glad vir haarself dink nie, en as haar bolletjie modder verdwyn, kan mens sien hoe verward sy raak. Uiteindelik vlieg sy maar terug en gaan maak ʼn nuwe bolletjie modder bymekaar, want dis al manier waarvan sy van weet.

Wat jy op laerskoolouderdom wil bereik, is om jou kind se kennissisteem so wyd as moontlik te maak. As sy as tiener verbande tussen al hierdie feite wil begin trek, het sy oral haakplekke en invalshoeke tot haar beskikking vir haar meer abstrakte insig, wat tydens adolessensie begin vorm.

Opvoedkundige Charlotte Mason se raad om kinders te leer terugvertel, is goud werd. As jou kinders van skryf hou, laat hulle ‘n paragrafie skryf van wat hulle byvoorbeeld in ʼn Weg artikel gelees het. As hulle nie van skryf hou nie, doen die terugvertellery sommer informeel aan die etenstafel as hulle vir pa vertel van iets interessants wat julle deur die dag raakgeloop het.

Die vaardigheid wat terugvertel hulle leer, is om hulle gedagtes te orden, agter te kom wat is meer en wat minder belangrik en dat hulle hulle geheue oefen.

Derduisende Afrikaanssprekende mense het in Afrikaans skoolgegaan en selfs hul beroepsopleiding 100% in Afrikaans voltooi. As volwassenes behaal hulle dan sonder enige moeite sukses in ʼn Engelssprekende wêreld. Die geheim is om eers die basis in die moedertaal goed vas te lê, dan skakel mens lag-lag na ʼn tweede taal oor.

Toespraak-maak, Yankstyl

Tuisskoolmoeders is formidabel, maak nie saak op watter kontinent jy jou bevind nie. Dit het ek weer gesien toe my toe agtienjarige vroeër hierdie jaar aan ’n redenaars- en debatstoernooi hier in Amerika deelgeneem het. Gewone ma’s het as onbetaalde vrywilligers ’n kompetisie gereël met so ’n ongelooflik-ingewikkelde rotasiesisteem, NASA sou trots gewees het.

Gecollar en getie in hulle kisklere, want dis wat die reëls sê, het sowat honderd tuisskooltieners vir drie dae tien-minuut-toesprake voor beoordelaars afgesteek. Ek vermoed meeste van die deelnemers het vir ’n hele paar weke, maande selfs, voor die toernooi toespraakmaak geëet, gedrink en geleef. Mens verstaan sulke toewyding, want die kinders leer baie: inligting bymekaar maak, sif, sinvol aanmekaar slaan en voordra. Dan praat jy nie eens van die sosiale slyping nie, want hulle leer om oorwinning, mislukking en kritiek met grasie te hanteer.

As Suid-Afrikaanse tuisskoler het die Yanks se beheptheid met reëls my soms geïrriteer. Tieners met das en baadjie? Vir drie dae lank? Suid-Afrika is in sekere opsigte beslis informeler. Wat my beïndruk het, is Amerikaanse tuisskolers se sin vir regverdigheid en ook dat hulle besef almal moet mekaar help om iewers te kom. In elkeen van die drie uitdunrondtes was drie beoordelaars, wat aan elke deelnemer terugvoering van ’n hele nege beoordelaars besorg het. Geen ma is toegelaat om dieselfde deelnemer meer as een keer, haar eie bloedjie of selfs ’n kind wat sy goed ken te beoordeel nie.

En hoe het die tweedetaalspreker uit Afrika gevaar? Nee kyk, ons het gou besef hier is hy ’n piepklein vissie in ’n groot see vol talentvolle visse. Boonop het hy ’n aksent wat niemand sal laat dink hy kom van die boonste verdieping van Downton Abbey nie. In elke groep van tien waarin hy gekompeteer het, is hy ’n paar keer laer as sesde geplaas, maar ook ’n paar keer vierde. Hy was bitter trots dat twee van sy nege beoordelaars hom tweede geplaas het.

Interessant genoeg, het omtrent elke beoordelaar hom gelukgewens met sy sin vir humor. Wat heel sportief van hulle was, aangesien hy die draak met Amerikaners gesteek het omdat hulle nou nog nie die metrieke stelsel gebruik nie en sy toespraak só begin het: “Americans drive on the right side of the road, but I am sorry to say, not the correct side.”

Laat sak jou facebook fasade

Dis menslik om voor te gee dit gaan beter met jou as wat dit regtig gaan. En hier is tuisskoolma’s geen uitsondering nie. Dus kan dit baie keer vir jou lyk of al die ander ma’s en hulle kinders so goed vaar, en dat jy die enigste een is wat vasbrand. Jy begin wonder of dit dalk net jou kinders wat nog nie kan lees nie, sukkel met somme en wie gesindheid teenoor leer party dae veel te wense laat. Moenie die fout maak om jou binnekamer-lewe op te weeg teen iemand anders se sitkamer-lewe nie.

Mens wil graag jou bloedjies beskerm en so goed as moontlik laat lyk in ander se oë. Maar soms is dit nodig om jou fotoperfekte facebook fasade weg te skuif en mense te laat agterkom jy of jou kinders trek swaar.

’n Paar keer al het tuisskoolvriendinne my in hulle vertroue geneem en gebieg dat hulle twyfel oor hulle sukses. Hulle het vertel van akademiese probleme, karakterkwessies of emosionele tameletjies waarmee hulle kinders stoei. Elke keer wat dit gebeur het, het ek sug van verligting geslaak, en op my beurt my eie twyfel oor tuisskool gedeel. Na sulke gesprekke kon ek, en hopelik my vriendin, met meer moed na huis en haard teruggekeer.

Ek dink nie dis ’n goeie idee om jou  geheime met elke Jan Rap en sy maat te deel nie, maar ’n verstandige vertroueling of twee, wat jou posisie begryp, is ’n goeie idee. Sluit aan by tuisskoolgroepe, maak vriende, deel mekaar se lief en leed. Jy gaan jou tuisskoolvriendinne baie nodig hê, nie net vir inligting oor die beste handboeke nie, maar ook vir aanmoediging en om die perspektief te behou dat jy jou tuisskoolstrategie weer en weer sal moet aanpas.

Vliegtuig

’n Vliegtuig is glo meer as 90% van die tyd van koers af.

’n Vliegtuig, so hoor ek, is meer as 90% van die tyd van koers af. Dwarswinde waai, lugstrome suig en vlieëniers verloor hul konsentrasie. Tog gebeur dit selde dat ’n vliegtuig nie sy bestemming bereik nie. Dis omdat koersaanpassings voortdurend gemaak word. Dink aan jou tuisskoolpad as ’n vliegtuig wat nog in die lug is. Plek-plek gaan jy die spoor byster raak, maar met regstellings sal jy weer jou pad vind.

Gesprekke met ander ma’s wat met dieselfde dinge as jy sukkel, help jou insien watter regstellings om te maak. Partykeer is dit groot veranderings, soos om ’n hele kurrikulum te laat vaar; ander kere is dit kleiner verstellings, soos om Wiskunde vroeg in die oggend te doen. Soms is dit net dat jy besluit almal vat nou ’n hele week af, want julle is uitgebrand.

Die wonder van tuisskool is dat jy jou gesin se onderwys presies vir jóú gesin se omstandighede en vereistes kan verstel. Die gawe van tuisskool is dat jy vriendinne kan hê wat jou kan help beter keuses maak. Die seën van tuisskool is dat jy jou mislukkings en sukses eerliker kan deel. Komaan, laat sak jou Mevrou-Perfek-Masker —  die ware jy is interessanter en meer inspirerend.

Pasop, hier kom die robotte

Met robotte wat deesdae nie net hamburgers kan maak nie maar ook prokureur kan speel, gaan die wêreld waarin ons kinders eendag werk baie anders lyk as die een van vandag. Hoe kan tuisskoolouers hulle kinders ’n voorsprong gee? Leer hulle om nuwe verbande tussen dinge raak te sien, iets wat geen rekenaar of robot kan doen nie. Met ander woorde leer hulle om te dink.

Ons gesin gebruik die jongste tyd graag hierdie tien-minuut-oefening. Ons kies ’n onderwerp lukraak (daar is baie webwerwe wat vir mens onderwerpe uitspoeg, tik net in: topic generator) en dan kry die kind drie minute om ’n toesprakie voor te berei en vyf minute om dit te lewer. Ons sit so twee minute by net om die stophorlosie, pen en papier reg te kry. Ter illustrasie dié onderwerp: rooi vs blou.

’n Tien-minuut-belegging met wonderlike resultate

Die kind moenie gorrel oor die onderwerp nie (vandag gaan ek al die blou en rooi goed waaraan ek kan dink, opnoem), maar moet standpunt inneem en ’n kant kies (blou is ’n baie beter kleur as rooi). Dan moet hy met drie punte vorendag kom om sy posisie te verdedig.

Die punte kan uit sy eie lewe kom (blou is beter as rooi omdat ek agterkom ek slaap beter onder my blou duvet as my rooie), uit iets wat hy gelees het (navorsing wys mense is eerder bereid om iemand wat blou klere dra aan te stel as iemand wat rooi klere dra) of selfs iets verspot en verregaande wat hy uitgedink het (blou is beter, want water wat uit die kraan met blou knoppie kom, brand my nooit). Hy moet ook ’n bietjie uitbrei oor elkeen van die drie punte.

In sy slotopmerkings noem hy weer sy standpunt deur dit verkieslik op ’n ander manier te stel (blou is die kleur van die hemel en is daarom meer verhewe as rooi, die kleur van kersies wat mens op koeke sit) en som sy drie bewyse ook weer op.

Met ’n daaglikse tienminuut-belegging kry jy wonderlike resultate. Ons ouers kan gerus ook die oefening probeer en jou naam voor jou kinders lekker alie maak. Glo my, om so ’n toesprakie met samehang te lewer, is moeiliker as wat dit klink. Ons het al gelê soos ons lag vir Ma se lomp pogings. As jy regtig goeie resultate wil hê, laat die kind volgende keer die ander kant kies, dus laat rooi dié keer wen.

Robotte

Een maal per week kan jy hulle bietjie meer tyd gee en laat navorsing doen voor hulle die toespraak maak. En af en toe kan jy hulle ‘n langer opstel laat skryf, steeds op die basiese model. Kinders verskil baie van mekaar, maar ek dink dié aktiwiteit werk waarskynlik die beste as hulle minstens al so veertien is en bietjie abstrak kan dink.

Toe hy gevra is watter vaardighede studente en toekomstige leiers van 21ste eeu moet hê, het die Kanadese sielkundige, Jordan B Peterson onder meer gesê dat as jy in staat is om jou argument te organiseer op die vlak van ’n woord, ’n sin, ’n paragraaf en ’n opstel, jy jou gedagtes en gevolglik jou brein kan organiseer.

En dis met georganiseerde gedagtes en breine wat tuisgeskoolde kind robotte en rekenaars gaan klop. Elke liewe keer.

Vind hier meer uit oor:

As ek van voor af in die tuisskoolstoel moes sit …

As ek van voor af moes tuisskool, sou ek hierdie drie dinge anders gedoen het.

 vet-een

Ek sou my minder bekommer het

Eind goed, alles goed — baie waar van tuisskool. Toe Johannes al amper veertien was en nog steeds nie kon lees nie, het ek my tog so daaroor bekommer. Toe Annamaria so skaam was dat sy met niemand wou praat het, het ek nagte daaroor wakker gelê. Toe altwee van hulle — ’n skryfster se kinders, nogal — hopeloos spel, het ek my oortuig ek was die vrotste tuisskoolma ooit.

Al die bekommer, wakkerlê en skaamkry was pure verniet. Met tuisskool moet mens die proses vertrou. Die eindresultaat is al wat saakmaak, en raai wat, is die kind nie tevrede met die eindresultaat nie, kan hy nog leer of verder aan sy vaardigheid slyp.

Vandag lees Johannes blitsvinnig én met begrip. Annamaria neem in Engels deel aan die gesprekke in haar aanlynklasse. Omdat hulle nie op Whatsapp of Facebook soos idiote voor hulle vriende wil lyk nie, het hulle wel altwee gou genoeg gesorg dat hulle beter leer spel.

 vet-twee

 Ek sou vir hulle meer gedigte gelees het

Behalwe dat gedigte kinders leer om die mooie in die lewe te waardeer en ritme en soepelheid in taal te ontdek, leer poësie kinders ook abstrak dink. Gedigte leer hulle ook om ongewone verbande tussen dinge raak te sien. Soos iemand eenkeer gesê het, metafore is die lewensbloed van kuns, miskien is metafore kuns self.

Ons het te min gedigte gelees. Hopeloos te min. Vandag is ek spyt. Lees vir jou kinders tonne en tonne gedigte. Klik hier en ontdek ’n heerlike aanlynbron van Afrikaanse gedigte.

Vet-drie

Ek sou hulle meer laat terugvertel het

Sover ek weet het die opvoedkundige Charlotte Mason die konsep van terugvertel gevestig. Al wat dit beteken, is dat die kind vir iemand vertel wat hy geleer of interessant gevind het.

Om kinders nie selfbewus te maak nie of te laat voel jy is besig om hulle toets nie, hou die terugvertellery informeel, lig, speels. Aan die etenstafel kan jy terloops vra dat hy vir Pa vertel wat hy vandag oor die element aluminium geleer het. Of wat sy alles uitgevind het oor die geel en swart insek wat sy in die tuin opgetel het.

Terugvertel is so ’n kragtige tuisskoolinstrument. Dadelik kom die volgende drie voordele by my op: Dit oefen kinders se geheue, leer hulle sistematiseer en leer hulle onderskei tussen die belangrike en die minder belangrike. Ek raai alle nuwe tuisskoolma’s aan om dié gereedskapstuk gereeld en getrou te gebruik.

 

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑