ʼn Tuisskoolma vra of dit sin maak om jou kind in Afrikaans te tuisskool as sy eendag buitendien in Engels universiteit toe moet gaan. Dis al oor en oor bewys moedertaalonderwys is altyd beter. Afrikaanse tuisskoolouers moet soveel as moontlik van hulle tuisonderrig in Afrikaans doen.
As moedertaalspreker is jou Afrikaanse woordeskat en begrip soveel groter as in jou tweede taal en dieselfde geld vir jou kind.
Wat is my beste raad vir ʼn tuisskoolouer met kinders in die laerskool? Moenie met ʼn formele leerplan begin voor die kind nie omtrent veertien jaar oud is nie. Hy sal jou self laat agterkom dat hy nou sy kennis wil begin sistematiseer en dis wanneer jy met vakonderrig begin.
Moet jou kinders dan soos werfhoendertjies by die huis rondhol? Nee. Gee vir hulle take en verantwoordelikhede. Laat hulle eksperimente doen en dinge ondersoek, speel speletjies, doen informele Wiskunde in die kombuis en sorg dat hulle baie tyd buite deurbring.
Laat hulle lees of lees vir hulle voor. Stories is die nodigste, maar algemene wetenskapboeke is ook ʼn goeie idee. Daar kan maar baie prentjies in wees. Vir Aardrykskunde, lees Weg tydskrif. Die Afrikaans daarin is pragtig.
Vir ʼn Afrikaanse kind is daar egter nie ʼn beter inleiding tot wetenskaplike denke as Anna Rothman se drie boeke nie. Die boeke se titels is:
- Klaasneus-hulle
- Kraai-hulle
- Kriek-hulle
Mens kry dié boeke nog by tweedehandse boekwinkels te koop. Eintlik verdien dié drie wonderlike boeke al lankal ʼn herdruk. Dis in sulke helder Afrikaans geskryf en Rothman het ʼn besonder fyn waarnemingsvermoë.
So vertel-vertel verduidelik die skryfster byvoorbeeld vir kinders die konsep van instink. Ondeund steel sy bolletjies modder by ʼn perdeby, wat besig is om nes te bou. Die perdebytjie kan glad vir haarself dink nie, en as haar bolletjie modder verdwyn, kan mens sien hoe verward sy raak. Uiteindelik vlieg sy maar terug en gaan maak ʼn nuwe bolletjie modder bymekaar, want dis al manier waarvan sy van weet.
Wat jy op laerskoolouderdom wil bereik, is om jou kind se kennissisteem so wyd as moontlik te maak. As sy as tiener verbande tussen al hierdie feite wil begin trek, het sy oral haakplekke en invalshoeke tot haar beskikking vir haar meer abstrakte insig, wat tydens adolessensie begin vorm.
Opvoedkundige Charlotte Mason se raad om kinders te leer terugvertel, is goud werd. As jou kinders van skryf hou, laat hulle ‘n paragrafie skryf van wat hulle byvoorbeeld in ʼn Weg artikel gelees het. As hulle nie van skryf hou nie, doen die terugvertellery sommer informeel aan die etenstafel as hulle vir pa vertel van iets interessants wat julle deur die dag raakgeloop het.
Die vaardigheid wat terugvertel hulle leer, is om hulle gedagtes te orden, agter te kom wat is meer en wat minder belangrik en dat hulle hulle geheue oefen.
Derduisende Afrikaanssprekende mense het in Afrikaans skoolgegaan en selfs hul beroepsopleiding 100% in Afrikaans voltooi. As volwassenes behaal hulle dan sonder enige moeite sukses in ʼn Engelssprekende wêreld. Die geheim is om eers die basis in die moedertaal goed vas te lê, dan skakel mens lag-lag na ʼn tweede taal oor.