ʼn Besonder snaakse video’tjie duik soms op my sosiale media op. ʼn Dief probeer ʼn fiets steel, maar die oomblik wat hy die fiets gryp, verskyn ʼn polisieman. As hy die polisieman gewaar, laat spaander die dief, maar die dienaar van die gereg sit hom dadelik agterna. So naby is die polisieman die dief het net-net nie tyd om op die fiets te spring nie. As hy net kon opkom, sou hy lag-lag vir die polisieman kon wegry, maar nou stoot en sukkel die dief voort. Hy is vinnig genoeg dat die polisieman hom nie kan vang nie, maar nooit vinnig genoeg om behoorlik weg te kom nie.
As tuisskoolma voel ek baie maal soos daardie dief. Die prys waarmee ek probeer wegkom, is suksesvolle en vreugdevolle tuisonderwys. Maar daar is altyd ʼn polisieman op my hakke wat keer dat ek op die fiets kan spring en begin trap vir ʼn vale. Hiermee wil ek nou nie te kenne gee dis reg om fietse te steel nie. Dis net dat die prentjie van die dief wat die fiets al stotende probeer steel in plaas daarvan om op te spring en te begin trap, soms so bekend voel.
So baie polisiemanne op ons spoor
Het jy ook al so gevoel? Jy weet jy kán jou kinders goed tuisskool, jy weet tuisonderwys is die beste, jy weet jou kinders kan dit doen, maar daar is altyd ʼn polisieman op jou spoor wat jou in die wiele ry. Kritiese mense wat reken tuisskolers maak van hulle kinders randeiers in die samelewing. Welmenende vriende wat prontuit sê jy oorbeskerm jou kinders. En jou skoonfamilie – ja, hulle met die slim kinders in die skool en opgetrekte wenkbroue, wat niks sê nie, maar jy weet hulle wonder oor jou bloedjies se SOSIALISERING.
Dan is daar die lewe self. Jonger boeties en sussies, die baba wat op pad is, siekte, bestuurslisensies wat hernu moet word, wasgoed, rekeninge, kos, ʼn huis wat netjies gehou moet word. Jy kom net nie op die fiets om weg te kom van die agtervolgende polisieman nie.
Ek hoop 15-Minuut-Afrikaans gaan jou die jaar help op die tuisskoolfiets te kom. Bring elke dag net ʼn kwartiertjie saam met jou kinders en die kursus deur en oor die jaar sal hulle ʼn goeie onderbou in Afrikaans kry. Voeg baie lees by en jy kan gerus wees dat jou kinders hulle moedertaal goed gaan leer verstaan en beter sal kan gebruik.
ʼn Sistematiese, maar ook ʼn kronkelpad
Met 15-Minuut-Afrikaans is die werk vir jou gedoen. Die kursus loop ʼn sistematiese pad deur die taal, maar hy loop doelbewus ook ʼn organiese kronkelpad, wat verseker jou die kind bou stadigaan werklike insig op in die struktuur van sy of haar moedertaal.
Ongelukkig het ek nie kwartierlange oplossings om met al die ander polisiemanne op jou spoor klaar te speel nie, maar ek kan minstens die Afrikaanse taalleer vir jou uit die pad kry.
As jy my nou sal verskoon, ek moet self verder hol met die fiets nog langs my. Ek stoom voort om so gou as moontlik al dertig lesse oor die klein kleremakertjie vir jou reg te hê. Vir meer inligting oor 15-Minuut-Afrikaans stuur asseblief vir my ‘n e-pos na:
tuisskoolmarisa@gmail.com
Of klik op die skakel hieronder as jy by 15-Minuut-Afrikaans wil gaan inloer:
Laat 'n boodskap